Video: Groot vreugde toe paartjie op SA lughawe verloof raak

Roxanne Badenhorst en Nathin van der Watt het op die lughawe verloof geraak. (Foto: verskaf)

Toe Roxanne Badenhorst verlede Woensdag ná ’n drie weke lange besoek aan familie in Australië na Suid-Afrika terugkeer, het sy nie kon dink dat haar kêrel met ’n verloofring by die lughawe vir haar sou wag nie.

Badenhorst, wat vir haar sieklike ma in Australië gaan kuier het, vertel aan Maroela Media sy was verras toe Nathin van der Watt, haar kêrel van drie jaar, haar wegstoot toe sy hom op die lughawe wou omhels. “Ek was so verras toe hy skielik op sy knie neersak,” vertel sy.

“Ek is steeds so opgewonde dat ek vir almal vertel, selfs die petroljoggies!” vertel sy laggend.

Die paartjie, wat tans in Kaapstad woonagtig is, was bure voordat hulle begin ogies maak het vir mekaar.

“Ons het begin gesels en besef dat ons ook oorkant die pad van mekaar gewerk het.”

Die liefde het kort daarna begin blom en nou staan die twee op trou.

Badenhorst vertel sy het haar ma vyf jaar laas gesien voordat sy besluit het dat dit tyd is om te gaan kuier.

“Toe ek hoor dat sy siek is, was ek so bekommerd dat ek ’n vliegtuigkaartjie gekoop en drie dae daarna gevlieg het.”

Sy vertel skertsend dat Van der Watt vir ’n paar weke moes “pa speel” vir haar ses- en agtjarige seuns.

Nathin van der Watt saam met Roxanne se twee seuns. (Foto: verskaf)

“Hulle is reeds baie na aan mekaar, ek dink hulle het dit geniet.”

Dié twee is vreeslik opgewonde dat hul ma verloof is en het skoon al ’n versoek vir ’n babasussie ingesit. Hulle het boonop gereeld vir hul ma gevra wanneer sy en Van der Watt gaan trou.

“Ek het altyd gelag en net gesê dat ek nie die persoon is om te vra nie!”

Ná baie seer en teleurstelling, is die verlowing ʼn ligpunt in die gesin se lewe.

“Ek en my man was reeds geskei toe hy gesterf het. Hy het onder meer met depressie gesukkel,” vertel sy.

“My seuntjies wil graag hul van ook laat verander wanneer myne verander. Natuurlik gaan ons eers hieroor praat, maar hulle wil graag ’n koppelteken-van hê sodat hulle ’n deel van hul pa by hulle kan hou.”

Badenhorst vertel dat hoewel sy Australiese burgerskap en Van der Watt Nieu-Seelandse burgerskap het, bly hul harte eg Suid-Afrikaans klop.

“Ons het al baie gereis, maar daar is net nie so ’n huisgevoel in ander lande soos wat mens hier ervaar nie,” het sy vertel.

Sy wil ook haar seuns blootstel aan die kosbare waardes waarmee sy en Van der Watt grootgeword het.

“’n Mens gaan dit nie noodwendig in ander lande kry nie. Ons sal dit dalk oorweeg wanneer hulle ouer is, maar hul vormingsjare moet in Suid-Afrika wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Die goeie nuus val so op die lekker gedeelte vam mens se brein, baie geluk aan die paartjie en die twee seuns. Ons het ook aanneem kinders in ons huis en was van dag een af eerlik teenoor die kinders oor hulle herkoms, vandag is hulle 30 plussers en ons baie gehêg aan mekaar. Sterkte, ek sien net voorspoed vir julle as gesin aangesien julle uitkyk op die lewe reg is.

Nicci ·

So trots op my kinders! Wat ‘n ongelooflike voorreg om deel van julle sprokie te wees – SO lief vir julle viertjies! xxxx

Tanya ·

Absoluut amazing…. baie geluk julle 2’tjies (of sal ek nou sé 4’tjies)!

Pandora ·

My niggie is ook so uit Australie verras toe haar (nou) man haar in Januarie na baie struikelblokke en langafstand verhouding verleng deur die pandemie, met ‘n ring in die hand op sy knie op Kaapstad lughawe die ja-woord gevra het.

Baie geluk aan die nuut verloofdes in die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.