Video: Museumteater maak Afrikanergeskiedenis lewend

Eduan Naudé en Karla Hoogendoorn is die akteurs by die museumteater. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die Voortrekkermonument (VTM) se Museumteater keer die tradisionele ervaring van gehore wat sit en kyk hoe akteurs ʼn storie op die verhoog uitbeeld, behoorlik op sy kop. Met dié inisiatief word besoekers op ʼn interaktiewe wyse by die vertelling van die Afrikanerverhaal betrek.

Maroela Media het vroeër berig dat die VTM amptelik die heel eerste museumteater in die Suidelike Halfrond by die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria geopen het.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê die museumteater bied geleenthede om die geskiedenis op vindingryke maniere aan besoekers oor te dra.

Die museumteater is ‘n interaktiewe ervaring. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

“Die doel van die teater is om die geskiedenis ʼn lewendige werklikheid vir mense te maak, en hulle deel daarvan te laat voel. Dit is lekker om te weet ons doen iets nuuts en uniek om die geskiedenis te laat voortleef.”

Hierdie museumteater vertel die verhaal van die Afrikanervrou se bestaan van 1902 tot in die moderne tyd. Die toeskouer word van vertrek na vertrek geneem waar die geskiedenis op ʼn interaktiewe en teatrale wyse vertolk word. Karla Hoogendoorn en Eduan Naudé vertolk die rolle.

“Die twee akteurs, net soos die teater, was vir ons ʼn gebedsaak. Omdat ons hier iets aangepak het wat nog nooit vantevore in die land gedoen is nie, het ons nie geweet wat om te verwag nie. Wat Hoogendoorn en Naudé vermag, is uitstekend,” meen Langner.

Hy is opgewonde oor die museumteater en wat hierdie ervaring vir die publiek sal beteken. “Uiteindelik is die teater ook ingestel op toekomsbou, hoop en die verskil wat elkeen in hierdie land kan maak.”

Maroela Media het een van die museumteater se vertonings bygewoon en ook met die akteurs daaroor gesels. Besoekers kan in hierdie video ʼn voorsmakie kry van wat om te verwag:

Die publiek kan hulle plekke bespreek deur hierdie skakel te volg of deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.