Video: Twaalfjarige samel derduisende doppies vir rolstoel in

Mïnka Theyse saam met die 35 000 doppies wat sy ingesamel het. (Foto: Verskaf)

Mïnka Theyse, ʼn gr. 6-leerder van Laerskool Stephanus Roos in Sinoville, Pretoria, het Maandag nagenoeg 35 000 plastiekdoppies aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) oorhandig ten bate van dié skool se unieke herwinningsprojek om rolstoele aan minderbevoorregte kinders met gestremdhede te help verskaf.

Volgens Mïnka se ma, Andri Theyse, is dié klein rooikoppie ʼn jaar terug aangevuur om haar projek te begin nadat sy haar ouers oor dié landswye inisiatief gehoor praat het.

“Ons het eintlik net ʼn informele gesprek daaroor gehad, want baie skole regoor die stad het hierdie tipe insamelings gehou, en sy vra toe of sy self ʼn poging kan aanwend. Ons het gesê dit help nie sy samel net tien doppies in nie, ons wou hê sy moet die erns van só projek besef.”

Klein Mïnka, wat volgens haar ma “nie noodwendig altyd baie geselserig is nie”, het kort voor lank nie net al die grootouers en huisvriende ingespan nie, maar selfs plaaslike restaurante in die Montana-omgewing genader om haar doppiedroom te bewaarheid.

“Sy het onbeskaamd vir kelners op hul naam gegroet en gevra om die doppies van hul water-en koeldrankbottels vir haar te hou. Regte klein klits!”

ʼn Spesiale asblik is ook in die Theyse-huis aan plastiekdoppies toegeken, waarna hulle in groot deursigtige plastieksakke gestoor is. Een sak bevat nagenoeg 1 000 doppies.

“Nee kyk, ons moes keer dat ons huis nie in doppies verdrink het nie,” terg Andri.

Daar is besluit om Mïnka se indrukwekkende versameling na ʼn jaar aan AHMP, wat ousus Arnaïs (21) se alma mater is, te oorhandig.

Dié skool se herwinningskomitee samel reeds sedert 2018 plastiekbottelproppies en broodknippies as deel van hul Proppieprojek in, en kon deur die jare al genoeg bymekaarmaak om nege rolstoele aan hulpbehoewende kinders met gestremdhede te versorg.

Volgens Mieke Joubert, voorsitter van AHMP se herwinningskomitee, verseker 450 kg se bottelproppies of 50 kg se broodknippies die skool van een rolstoel. Mïnka se skenking lewer nou ʼn groot bydrae om ʼn rolstoel spesifiek aan die Alma Skool vir leerders met verstandelike gestremdhede in Pretoria te gee.

“Daar is kindertjies by die Alma Skool wat slegs by die skool toegang tot rolstoele het en nie by die huis nie. Dan moet hulle bly sit en het nie kans om self rond te beweeg nie, en ons wil hulle graag help,” verduidelik Mieke, wat tans in gr. 8 is.

Sy en haar spannetjie, wat bestaan uit Caylyn Esterhuizen, Danica Labuschagne, Micky Leonardo, Nieke Moll en Rochelle de Kock, almal ook in gr. 8, sal dié doppies nou self afspoel en sorteer.

“Ons is baie beïndruk met die feit dat Mïnka self inisiatief geneem het en plan gemaak het om iets vir haar gemeenskap te doen. Ons weet dis harde werk en as sy so iets reeds op só ʼn jong ouderdom kan doen, sien ek uit om te sien wat haar toekoms vir haar inhou,” voeg Mieke by.

Ook ma-Andri en pa-Jacques, wat beide entrepreneurs is, is breëbors oor hul dogter se doppie-insameling.

Volgens Andri, wat self besig is met ʼn projek onder kinders tussen gr. 4 en gr. 8 wat veral weens die pandemie ʼn begripsleesagterstand het, lê liefdadigheidsprojekte dié gesin nog altyd na aan die hart.

“My ma is twee jaar terug dood aan kanker en sy’t vir ons almal die voorbeeld gestel om in te gryp waar jy kan om ander te help. Jy kan niemand se omstandighede oordeel nie, want jy sal nooit werklik weet wat in hulle lewens aangaan nie. As ons sien dat ons êrens ʼn verskil kan maak, ongeag hoe groot of klein, dan doen ons dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wikkie ·

I love it, I love it, I love it!

Knap gedaan! Sommer twee vlieë met een skoot.
Eens vir herwinning en andersins vir behoeftiges.

Koos 100 ·

Dis goed gedoen.
MM dra asb kennis dat hope ander skole ook dit doen, so dis nie uniek aan AHMP nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.