Video: Vervul jou roeping met verdere studie

(Foto verskaf)

In November fokus Vroue in Beweging, in samewerking met Akademia, op die tema “Vroue se verskillende roepings”. Akademia is ʼn belangrike deel van hierdie inisiatief en bied ʼn verskeidenheid van studierigtings aan om jou loopbaan te bevorder. Hulle glo in die waarde van opleiding en vorming om die volgende generasie toe te rus en om voornemende studente te help om hul roeping te vervul deur nauurse opleiding.

Ek het die voorreg gehad om ʼn gesprek te voer met drie uitnemende vroue van Akademia: Liana van Rooy, die registrateur, dr. Rachel Maritz, die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Yolandi Theron, ʼn BCom Ondernemingsbestuur-student.

Terwyl ons gereedmaak vir die opname drink ons ʼn koppie koffie en gesels oor hoe ons Pretoria tans sien, wat is die uitdagings en die moontlike oplossings. Reeds hier besef ek, ek bevind my tussen drie vroue wat nie net suksesvol is nie, maar wat ʼn passie het vir waar hulle werk, hul omgewing en hul roeping binne die gemeenskap.

 melanie-rosillo-galvan-ma-gradeplegtigheid-unsplash.jpg

Foto: unsplash/melanie-rosillo-galvan.com

Tydens die opname word daar gesels oor die uitdagings wat ʼn vrou het om nauurs te studeer, ons gesels oor tyd en geld. Ek weet daar is baie kere in my lewe wat ek ook te min van een van die twee gekose items van die lewe het. Ek dink by myself dat ek wens ek het meer tyd gehad saam met my dogter, om nie eens te praat van verder studeer en nog tyd steel by haar en my man nie. Maar soos wat die gesprek vorder, raak ek skoon opgewonde oor ʼn moontlikheid om dalk regtig verder nauurs te studeer. Ek moet sê hierdie vroue is nogal inspirerend, ek sit sommer en oorweeg politieke studies of regte!

Maar ek besef ook waar my roeping lê. Ons praat oor beroep en roepings en hoe opleiding daardie sakkie toebind. My roeping lê by my mense, by mense wat ek wil help deur my alles te bied vir dit waarmee ek besig is. En daaruit vloei my roeping ook om vroue in Suid-Afrika te bemagtig. Dit is juis die rede hoekom ons vroue hier op die rusbank sit om te gesels oor roeping, beroep, opleiding en die pad na ʼn voorspoedige toekoms. My beroep en roeping is saamgeweef en ek sê elke dag opreg dankie aan my Skepper.

Met die stigting van die Vroue in Beweging-inisiatief het Solidariteit se Navorsinginstituut vir ons navorsing gedoen onder Afrikanervroue in Suid-Afrika. Deel van die vrae was “wat is jou hoogste kwalifikasie?”, gevolg deur die vraag “het jy ʼn behoefte aan verdere opleiding?”. Altesaam 51% van vroue het aangedui dat hulle baie graag verder wil studeer. Om meer te lees oor die navorsing klik hier: https://helpendehand.co.za/vroue-navorsing/

shayna-douglas-ggitbb0tcoo-unsplash.jpg

Foto: unsplash/shayna-douglas.com

Ons weet dit is dikwels nie moontlik vir ʼn jong vrou of ʼn volwassene om haar huis en gesin agter te laat en voltyds vir drie of vier jaar te gaan studeer nie. Om hierdie rede is die nauurse afstandsmodel by Akademia in baie opsigte ʼn antwoord op gebed vir soveel studente.

Van die voordele daaraan verbonde om volgens die nauurse afstandsmodel te studeer, sluit in:

  • Jy kan inskakel by ʼn sentrum in jou omgewing waar jy deel vorm van ʼn studentenetwerk en waar rugsteundienste soos kragopwekkers en internet beskikbaar is.
  • Jy kan vanuit die gerief van jou eie huis of werksplek inskakel vir kontaksessies.
  • Kontaksessies vind nauurs plaas en verbind die student met ander studente en hul dosent in ʼn virtuele klaskamer vir regstreekse klasuitsendings waar interaktiewe leer plaasvind.
  • Dit bied studente die geleentheid om te werk terwyl hulle studeer, wat nie net beteken jy doen praktiese ondervinding op van dit wat jy in die klas as teorie geleer het nie, maar ook dat jy ná voltooiing van jou kwalifikasie reeds werkservaring het wat jou meer gesog maak in die arbeidsmark.
  • Deur te werk terwyl studente studeer, kan hulle reeds afbetaal aan hul studie met die inkomste wat verdien word.

(Foto: Verskaf)

Ná afloop van die gesprek vra ek ʼn Vroue in Beweging-vriendin, Lizán Maree, of sy vir my wenke het, want ek voel daar is nie genoeg tyd en geld om nog nauurs te studeer nie. “My wenke vir ʼn vrou wat graag wil studeer, maar bang is die dag het nie genoeg ure nie, is om nie alle modules op een slag te neem nie. Dit is moontlik om modules te versprei sodat die werkslading hanteerbaar is. Die tweede wenk is om deurlopend op datum te bly en baie goeie tydsbeplanning toe te pas. Diegene wat dit reeds gedoen het, is dit eens dat dit beter is om elke dag twee uur lank aan studiewerk af te staan as om op een slag ʼn hele week se werk te probeer opvang.”

Sy vertel ook dat sy die voorreg gehad het om te kon studeer soos wat studente by Akademia studeer – in Afrikaans, en dat sy later in haar lewe ook nauurse studierigtings aangepak het en haar kan vereenselwig met dié wat werk en studie probeer balanseer.

Ek voel werklik ná afloop van die gesprek dat ek weer my boekrak wil afstof, vol nuwe boeke plaas en ja, dalk ʼn Fontie word by Akademia se nauurse afstandsmodel. Maar ek weet dat regte dalk nie by my roeping sal inpas nie, daarom is ek opgewonde oor die nuwe studiemodules wat Akademia nog binne die volgende jaar gaan bied.

Meer oor Akademia se nauurse afstandsmodel

Studente wat op Akademia se nauurse afstandsmodel studeer, kan inskakel by ʼn sentrum of via e-leer klas bywoon vanaf enige plek ter wêreld.

Daar is ʼn verskeidenheid van kwalifikasies volgens die nauurse afstandsmodel beskikbaar, van hoër sertifikate tot grade, asook nagraadse diplomas en ander. Besoek die Akademia-webblad https://bit.ly/3saWBWb (Hierdie is die spesifieke bit link vir die artikel) vir meer inligting oor die onderskeie kwalifikasies. Van die gewildste rigtings is die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde, BCom (Ondernemingsbestuur), die LLB-graad en ook die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys.

Landwye sentrums is beskikbaar in Bloemfontein, Centurion, die Moot, George, Krugersdorp, Paarl en Somerset-Wes. Vir studente wat nie in hierdie gebiede is nie, is die e-leeropsie die antwoord.

Studie-aansoeke vir 2024 is steeds oop, en word aanlyn voltooi. Gaan na die Akademia-webblad en klik op die Doen aansoek-knop vir meer inligting oor die dokumentasie wat benodig word en die proses.

Geskryf deur Rene Roux – Voorsitter: Vroue in Beweging

Vir meer inligting oor Vroue in Beweging besoek www.vroueinbeeging.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.