Vlytige oumas bied troos met gebreide beertjies

Die gr. 1-leerders by die Primêre Meisieskool Oranje het elkeen ‘n bidbeertjie gekry. (Foto: Primêre Meisieskool Oranje/ Facebook)

Vier vlytige oumas was omtrent aan’t brei om klein, betekenisvolle beertjies vir altesaam 80 gr. 1-leerders by die Primêre Meisieskool Oranje gereed te kry.

Dié beertjies, uitgevat in die einste pampoenkleurige rokkies waarvoor dié Bloemfonteinse laerskool bekend is, is vroeër vandeesmaand aan die skool se nuwe gr. 1-groep uitgedeel.

Dié beertjie is ’n simbool van troos, bemoediging en liefde van ’n oumahart vir ’n dogtertjie wat pas met gr. 1 begin het.

Die projek is in Oktober verlede jaar deur Corné Grobbelaar, wie se jongste dogter vanjaar self in gr. 1 by dié laerskool is, van stapel gestuur.

“My dogtertjie het verlede jaar vir haar ouma gevra vir ’n beertjie,” vertel Corné aan Maroela Media.

“Ek het net gedink dat sy nie die enigste een is wat dalk die troos en bemoediging nodig het nie. Daarom het ons besluit om in te spring en die projek te begin.”

’n Paar van die dogtertjies se ma’s wat mekaar gedurende hul gr. R-jaar leer ken het, het kragte saamgesnoer om geld vir die beertjies in te samel.

Die oumas het nie op hulle laat wag nie en die breinaalde en wol is onmiddellik ingespan om die beertjies, wat in samewerking met die bidbeertjie-projek gemaak is, te begin brei.

“Ons wil beslis die projek in die komende jare weer aanpak, maar sal definitief meer mense inspan om te help brei. Dit was baie harde werk vir die vier vroue.”

’n Facebook-plasing van dié dierbare beertjies is nagenoeg 400 keer gedeel, het sowat 450 kommentare ingewin en meer as 2 000 mense het daarvan gehou.

Die besondere bere is nie net ’n geskenk nie, dit is ook ’n gebed. Met die brei van elke beertjie is daar ’n gebed vir die leerder wat dit sou ontvang, opgestuur.

Die Bybelvers, Johannes 3:16: “Jesus is lief vir my”, is ook op die voorkant van die beertjie aangebring.

“Ons wou elke dogtertjie herinner dat Jesus haar lief het en altyd by haar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert K ·

As ons meer omgee mense soos hierdie oumas gehad het, sou die wêrel beslis ‘n beter plek gewees het.
Pragtig julle!

Mariana ·

Wat ‘n pragtige gebaar. Wel gedaan oumas. Dogter- hartjies glimlag nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.