Volg ‘Lamb Champs’ vanaf die plaas tot op die spit

Tydens die bekendstelling van die tweede Lamb Champs-seisoen was Minki van der Westhuizen die seremoniemeester. Andriette en Nathan Naude was verlede seisoen se wenners en Iné Bester is Saai se operasionele bestuurder. (Foto: Verskaf)

Ná die heel eerste Lamb Champs ʼn dawerende sukses was, het die familieboernetwerk, Saai, besluit dat die tweede een nog beter en groter moet wees.

Altesaam 50 boere het vroeër vanjaar elk ʼn lam vir ʼn kompetisie ingeskryf en dit Pretoria toe gestuur om te bepaal wie die lekkerste skaap op sy plaas kon grootmaak. Elke lam is tydens ʼn groot fees op ʼn spit gesit en 2 000 gaste kon soveel lam eet as wat hulle wou. ʼn Span professionele beoordelaars moes die groot keuse maak.

Die wenner was Nathan Naudé van Nitique Boerdery, Kriegerspoort in die Noord-Kaap, in die tweede plek was Gawie van Heerden van Konsortium Merino, Dombietersfontein in die Noord-Kaap, en Hennie Jonker van Kroonstad in die Vrystaat het derde gekom.

Met die aanloop tot die groot dag is daar nege boere in elke provinsie besoek om meer oor sy boerdery en skaapkookkuns te wete te kom. ʼn Programreeks met Meyer le Roux, eienaar van Buffelsfontein Brandewyn as aanbieder, is oor die besoeke gemaak en is op YouTube te sien.

Die tweede seisoen van Lamb Champs is dié week by Buffelsfontein Beesboerdery in Pretoria bekendgestel en weereens gaan Lamb Champs ʼn amptelike soektog van stapel stuur om die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika te vind.

Die geleentheid is deur voornemende borge, familieboere, vriende van familieboere en 2022 se top drie Lamb Champs-kampioene bygewoon. Tydens die funksie het die seremoniemeester, die gewilde Minki van der Westhuizen, aangekondig dat die eerste episode van die nuwe reeks op 27 Mei 2023 uitgesaai sal word. Soos met die vorige seisoen besoek Le Roux weereens nege boere, een in elke provinsie, wat aan die kompetisie gaan deelneem.

Dié besoeke word opgeneem vir ʼn Lamb Champs-sosialemediareeks wat weekliks gratis op sosiale media beskikbaar sal wees.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê met die eerste Lamb Champs was die aanvanklike doel om die lekkerste lamsvleis in Suid-Afrika te soek en om skaapboere se mark- en prysbepalingsvermoë te versterk.

“In 2023 voeg ons ʼn derde komponent vir die tweede seisoen by. Dit is om die sosiale infrastruktuur in klein dorpies te help beskerm deur fondsinsamelingsinisiatiewe.

“Ons wil verder gaan as om familieboere net met die praktiese uitdagings op hul plase te help, want dit alleen sal nie keer dat verstedeliking teen ʼn baie vinnige tempo toeneem nie. Ons wil daardie instansies wat in boere en hul families se sosiale behoeftes kan voorsien se hande ook versterk, want in die afwesigheid daarvan sal boere en hul gesinne voortgaan om hul plase te verlaat en dit te verkoop of verhuur of ʼn naweek-wegbreekplek daarvan te maak. Ons moet die platteland die eerste keuse vir familieboere en hul gesinne maak,” sê hy.

Die tweede seisoen se groot dag sal op 29 Julie 2023 by Loftus Versveld in Pretoria gehou word. Op dié dag sal 100 familieboere van oor die hele Suid-Afrika lammers op die spit braai en ʼn paneel van 25 kos- en vleiskenners sal elke lam individueel beoordeel om te bepaal wie die wenner is.

Slegs 5 000 gaste sal die geleentheid kan bywoon en van enige van die 100 spitte proe terwyl ʼn verskeidenheid van kunstenaars hulle vermaak.

Boere van oor Suid-Afrika word uitgenooi om hul lammers vir die kompetisie in te skryf. Daar is ʼn prysgeld van R50 000 op die spel, asook ʼn spogtrofee ter waarde van R80 000 wat deur die beeldhouer Nic van Rensburg gegiet is. Boere, voornemende borge en geesdriftige skaapeters kan op Lamb Champs se webblad gaan kyk waar daar aansoek gedoen en kaartjies gekoop kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.