Waar was Wouter?

 wouter-voortrekkermonument2.jpg

Wouter het besoek afgelê by die Voortrekkermonument in Pretoria, Gauteng.

Dis skoolvakansie en Wouter, Weet se leergierige uiltjie, kan nie wag om weer nuwe plekke te besoek en dinge te leer nie!

Tydens die vorige vakansie het Wouter besoek afgelê by die Voortrekkermonument in Pretoria, Gauteng. Hy het hom verkyk aan die huishoudelike artikels uit die Groot Trek wat in die Voortrekkermonument se kelder uitgestal word, soos kruithorings en voorlaaiers, dolosse en kakebeenwaentjies waarmee die kinders gespeel het. Hy het hom ook vergaap aan Hans Dons de Lange se Bybel en Piet Retief se vrou, Magdalena, se silwer snuifdosie. Daar is so baie om te sien en te doen op hierdie terrein, Wouter dink almal moet dit besoek!

Daarna het hy na die Gautreinstasie oorgevlieg. Hy het onlangs oor spoorweë geleer en toe besluit hy wil ook graag op Gauteng – en die ganse Afrika – se heel eerste sneltrein, die Gautrein, ry. Het jy geweet ’n mens kan 50 000 mense per uur op ’n spoorlyn vervoer teenoor ’n snelweg waar slegs 2 500 mense per uur kan ry. Om 1 000 mense van een plek na ’n ander te vervoer, sal sowat 15 busse of minstens 250 motors benodig word. Jy sal ook ’n reuseparkeerplek benodig wat 1,37 hektaar (13 700 m2) groot is! Dit terwyl een trein met agt waens dieselfde aantal mense kan vervoer.

Die volgende dag het Wouter die pad Mpumalanga toe aangepak, omdat hy graag die Groot Vyf by die Krugerwildtuin wou sien. Hy was gretig op die uitkyk na die leeu, olifant, renoster, buffel en jagluiperd, en het boonop op ʼn trop wildehonde afgekom!

Van Mpumalanga het hy in die rigting van KwaZulu-Natal gereis. Voordat hy by die see kon uitkom, het hy eers by die Bloedriviermonument naby Dundee stilgehou. Die Slag van Bloedrivier het in 1838 hier tussen die Voortrekkers en die Zoeloes plaasgevind. Wouter weet nou alles oor dié geskiedkundige gebeurtenis – gaan lees bietjie op Weet wat hy vertel!

 

Met ʼn draai vlieg Wouter toe Karoo toe. Hy het gehoor dat daar ʼn huis vol uilbeelde in Nieu-Bethesda is en hy móés dit net sien. By die Uilhuis was hy verstom oor al die vreemde standbeelde waarmee die kunstenaar Helen Martins haar hele erf en huis versier het. Die uile daar lyk wel effens anders as hy, maar voel tog soos familie.

Wouter_Uilehuis (2).jpg

Wouter by die Uilhuis in Nieu-Bethesda.

Wouter het egter nie net in ons eie land gereis nie, hy was ook oorsee! In Boedapest het hy baie geboue gesien wat in die Renaissance-styl ontwerp is, en in Kroasië kon hy die warm water van die Middellandse See geniet. Het jy geweet dat die oostelike kant van dié see baie souter is as die weste? Dit is omdat die oostelike kant laer watervlakke het en dit lei tot ’n hoër soutkonsentrasie.

Wouter het ook ʼn draai gemaak in Athene, Griekeland, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 aangebied is. In Venesië moes hy van watervervoer gebruik maak, wanneer sy vlerke te moeg geraak het om te vlieg.

Wouter wonder nog waarheen hy hierdie vakansie moet reis. Het jy dalk ʼn paar voorstelle van plekke waaroor hy op Weet se webwerf kan skryf? Laat weet ons, dan stuur ons vir Wouter om die inligting te gaan kry, sodat jy dit op Weet kan lees!

Kontak Petronel met voorstelle en stuur ʼn e-pos aan [email protected].

Veilig reis, Wouter!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.