Perde help met leierskapsopleiding

Odis Mundarira, fasiliteerder, wys aan studente hoe om die perde te voer. Foto: Romy Odendal.

Deur Alida Buckle

Derdejaarstudente by die Militêre Akademie in Saldanha is dit eens dat vyf dae van perd-gesteunde leierskapsopleiding hulle geleer het om meer geduldig te wees, kalm te bly en ’n situasie eers op te som voordat daar opgetree word.

Dit is die eerste keer dat Equine Facilitated Leadership Training (EFTL) in die Suid-Afrikaanse Weermag gebruik word, volgens kolonel dr. Laetitia Olivier, programorganiseerder en senior lektor in strategiese studies aan die Akademie. Brigadier-generaal Gerald Pharo, hoof van die Akademie, het toegestem dat die opleiding as deel van die jaarlikse Militêre Week by die Akademie (die Universiteit Stellenbosch [US]) se Militêre Wetenskapsfakulteit aangebied word.

Die doel is om derdejaarstudente se leierskapvaardighede en selfvertroue te ontwikkel deur middel van ervaringsleer. Dus, deur perde se optrede en interaksie te ontleed, kon die studente hul leierskapsvermoëns en vaardighede geslyp.

Prof. Lindy Heinecken (links) kyk terwyl Luitenant-kolonel Romy Odendal die oefening verduidelik. Foto: Alida Buckle.

Prof. Lindy Heinecken, hoof van die US se fakulteit sosiologie, het gesê dat die studente hul persepsies verander het ná ’n oefening waarin hulle elkeen ’n perd moes kies en ’n verhouding met die perd moes bou.

Vir die grootste deel van die groep was dit hul eerste ontmoeting met perde.

Olivier het verduidelik dat die studente glad nie perd gery het nie, maar slegs deur interaksie met perde hul vrese oorkom en geleer het om hul outoriteit (oor die perde) te laat geld.

Wedersydse vertroue tussen perd en student was ’n noodsaaklike vaardigheid wat die studente (weermagoffisiere in 2021) moes bemeester.

Heinecken vertel dat een van die opdragte was dat die studente die perde moes dophou nadat ’n persoon (verskuil onder ’n kombers) tussen die perde gesit is, om ag te slaan op hul liggaamstaal. Die studente moes die hoofhings en -merrie se hantering van dié vreemde waarneem en bestudeer ten einde hul waarneming en die insameling van intelligensie te verskerp.

Luitenant-kolonel Romy Odendal, die hoogs opgeleide berede offisier in die weermag (van onderwys, opleiding en ontwikkeling) by die hoofkantoor in Pretoria, het gesê dat die studente uit die perde se reaksies en handelinge kon leer hoe vinnig gevegs- en konfliksituasies – soos wat hulle byvoorbeeld op ’n vredesmissie in ’n vreemde land mee te doen kan kry – kan verander.

Dié span was baie in hul noppies nadat hulle die perd in die tousirkel kon kry. Foto: Alida Buckle.

Prof. Sandra Swart van die US se fakulteit geskiedenis, het aanvaarbare gedrag, samewerking en taakuitvoering tydens die interaksie met perde verduidelik.

Die studente het entoesiasties deelgeneem aan die laaste oefening waarin hulle ’n perd moes afsonder, na ’n kampie lei en in ’n tousirkel op die grond tot stilstand dwing – sonder enige toerusting.

Bekroonde plaaslike skouruiter, Juandré Strydom (19), en haar perd, Midnight, het hul aanskoulike passies uitgehaal as voorbeeld van hoe mens en perd kán saamwerk.

Volgens Odendal is daar reeds sprake daarvan dat die perd-gesteunde opleiding weer volgende jaar aangebied gaan word.

Die West Coast Military Equestrian Club, ’n privaat ryklub op akademiegronde, het hul perde vir die opleiding geleen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.