Weldoeners reël troue vir paartjie wat 13 jaar wag

Weldoeners het gehelp om Herman du Plooy en sy bruid, Antoinetta, se droomtroue te reël. (Foto: Verskaf)

Herman du Plooy en sy bruid, Antoinetta, kon Saterdag uiteindelik by die Voortrekkermonument in Pretoria voor die kansel staan nadat hulle 13 jaar lank moes wag om dié droom te bewaarheid.

Skaars ʼn paar maande gelede het Herman nog pakkies springmielies langs die pad vir ʼn ekstra inkomste verkoop. Jacques Papenfus van Moeggesukkel, ʼn organisasie sonder winsbejag in Pretoria, het hom egter raakgesien en besluit om in te gryp.

Jacques het hoofsaaklik die troureëlings getref, aangesien Herman nog aan die begin van die jaar werkloos was.

“Jacques het my en Antoinette se lewens onherroeplik verander,” vertel Herman, wat in Februarie vanjaar met Jacques kennis gemaak het.

Volgens Jacques het hy geweet dat Herman ʼn man is met wie hy ʼn pad kan stap.

Herman en Antoinetta is by die Voortrekkermonument getroud. (Foto: Verskaf)

“Ek is al vir jare betrokke by liefdadigheid. Tog het ek eendag besef die Here roep my dalk tot iets groter en ek het besef ek moet dieper begin kyk na die wêreld en die mense rondom my,” vertel Jacques.

“Toe ek vir Herman ontmoet het, het ek hom vra wat hy die graagste op aarde wou hê. Sy antwoord was eenvoudig ‘om met my verloofde te trou’.”

Jacques sê hy het dadelik ingespring en verskeie borge genader om met alles te help, van blomme en spyseniering tot ’n rok en ’n pak, en ook die venue.

FC Pelser, kommunikasiebeampte by die Voortrekkermonument, het betrokke geraak nadat Jacques en sy span ʼn radiogesprek oor die monument geluister het.

“Van die Voortrekkermonument se kant af is ons ’n kultuurtuiste wat glo in die gemeenskap en die gemeenskap wat moet saamstaan,” sê FC.

“Ons werk gereeld saam met liefdadigheidsorganisasies waar ons verskeie projekte aanpak. Toe ons genader word deur Moeggesukkel het ons geweet dit is ’n goeie manier om terug te ploeg in die gemeenskap en weer ʼn bietjie hoop te saai.

“Herman en Antoinetta se verhaal is een wat baie mense geraak het en die Voortrekkermonument is werklik trots om deel te kon hê daaraan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê maar net ·

Mag die Here die weldoeners seën. Wat ‘n pragtige gebaar. Baie geluk aan die paartjie. Die Here se rykste seën julle twee toegewens op jul pad vorentoe.

Nici ·

Ek skat die een ding wat ek anders sien as meeste mense is dat mens nie die duur ring, fotograaf of rok nodig het nie. Dis die een word wat die spesiale event is en om te trou verg ‘n paar handtekeninge.

Theresa ·

Jacques, jy het vir n egpaar iets gebring wat baie kosbaar is……liefde en omgee!
Jy en jou span is baie spesiaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.