Wenners: Idiome sorg vir groot vermaak

Jeanette Loock (Foto: Verkaf)

Twee Maroela Media-lesers het die geleentheid gehad om elkeen ʼn Idiomepret-bordspeletjie te wen en die wenner van die eerste prys ontvang ook ʼn eksemplaar van Met een voet in die Bybel, ʼn boek oor spreekwoorde en idiome in die Bybel.

Om hiervoor in aanmerking te kom moes lesers hulle taaltalente inspan en ʼn storie van 150 woorde skryf waarin hulle soveel moontlik idiome gebruik.

Baie geluk aan Jeanette Loock wat as die wenner aangewys is. Hier is haar wenstorie:

Sommige mense gaan haal graag die bobbejaan agter die bult, maar Jan het regtig nie ʼn berg van ʼn molshoop gemaak nie. Baie vroeg op ʼn mooi sonnige oggend – want môrestond het goud in die mond – stap Jan en sy vrou en haal ou koeie uit die sloot, toe sy vrou skeef trap en soos ʼn os neerslaan. Jan moes toe skouer aan die wiel sit en haar lywige 90 kg-lyf abba met sy tengerige 60 kg-bene wat hom behoorlik klippe laat kou het tot by die eindstreep. Maar gelukkig kom agteros ook in die kraal en het hy nie die hasepad gekies nie, maar wel die wa deur die drif getrek. Sy vriende het gedink Jan is van lotjie getik, maar sy antwoord was net: “My blus is nou uit, maar ons bly bymekaar deur dik en dun, en vir haar sal ek berge versit!” Fluit-fluit, my storie is uit.

Marietjie Dempers (Foto: Verskaf)

Hartlik geluk ook die naaswenner Marietjie Dempers. Sy het die volgende idiomestorie ingeskryf:

“Trou is nie perdekoop nie,” sê hulle. Maar wag, inkopies op Black Friday is ʼn perd van ʼn ander kleur. Net voor oopmaaktyd staan ek gereed om die bul by die horings te pak. Reg langs my is my mededinger. Beide pare oë is op dieselfde paar skoene gerig. Gelukkig skrik ek nie vir koue pampoen nie. Vandag sal ek haar wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Soos een man trek ek en die vetgesmeerde blits langs my weg. Sonder om te blik of te bloos pyl ons op die paar gesogte skoene af. Nou is dit bul teen bul, maar voor jy mes kan sê, staan my eweknie met die eerste prys in haar hand – ek ʼn hanetreetjie weg en met rede bekaf.
“Hopelik is jy Aspoestertjie en nie een van haar susters nie,” snou ek.
“Sê jy miskien my voete is te vet vir hierdie skoene, dame?”
“Wel, as die skoen jou pas …”

Hou Maroela Media dop vir nog opwindende kompetisies en skryf in!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Allop ·

Stuur die stories asb. vir Charlise Theron en vra haar of sy dink sulke skrywes is moontlik in enige ander taal Welgedaan aan die twee wenners

Suzette ·

Oulik! Het geniet om dit te lees – dit het my laat glimlag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.