Maroela Media se Bruid van 2022 is…

Ané Krause, Maroela Media se Bruid van 2022. (Foto: Escada Fotografie)

Toe Ané Krause (32) van Lydenburg, Mpumalanga, vir haar man, Werner (30), sê sy gaan inskryf vir Maroela Media se Bruid van die Jaar-kompetisie, was sy woorde: “Jy gaan wen, want jy is die mooiste vrou”.

Dit lyk of Werner, wat met statistieke en inligtingstegnologie werk, se aanvoeling in die kol was, want Ané is uiteindelik aangewys as die Winterbruid van die Jaar, en nou het sy ook die gesogte, algehele titel losgeslaan: Maroela Media se Bruid van 2022.

Ané vertel opgewonde aan Maroela Media die nuus het skaars kans gehad om in te sink, maar sy is oorstelp dat sy en Werner ʼn kans kry om ʼn romantiese, tweede wittebrood te hou.

As deel van die prys, wen die Krauses drie nagte se verblyf by die Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek in die Wes-Kaap.

“Ons eerste wittebrood het plaasgevind toe die strande by Umhlanga gesluit was weens ʼn bakterie wat in die water gevind is. En ons het verloof geraak in Julie 2021, toe die plundering in KwaZulu-Natal plaasgevind het. Hopelik is geluk aan ons kant in die Kaap,” skerts Ané, ʼn gr. R-onderwyseres.

Werner was self nog nooit in die Kaap nie, sê sy. “Ons gaan dus ons vakansie ʼn bietjie verleng en toer en die Kaap beter leer ken.”

Ané en Werner Krause. (Foto: Escada Fotografie)

Sy vertel laggend dat mense gereeld aanmerkings en grappies maak oor die lengteverskil tussen haar en Werner, wat behoorlik bo haar 1,6 m uittroon.

“Mense vra altyd hoe dit dan gebeur dat so ʼn kort vrou soos ek dan so ʼn lang man kry, maar ek is so kort dat daar nie mans is wat korter is as ek nie,” skerts sy.

Die Krauses was vir drie jaar ʼn paartjie voordat hulle op 20 Augustus verlede jaar by @Boshoek getroud is. Sy vertel laggend hulle het ontmoet toe sy ʼn metgesel vir ʼn troue nodig gehad het.

“Hy het 23:00 daardie aand vir die eerste keer met my gepraat. Sedertdien het ons nooit weer ophou praat nie.”

Ané en Werner Krause. (Foto: Escada Fotografie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Julle is albei pragtig. Baie geluk! Julle is waardige wenners. Mag dit ‘n wonderlike tydjie in die Kaap vir jul wees. Wanneer Werner die Kaap sien gaan hy wil verhuis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.