Orania, oras en die ovaalbaan: ’n Dorp wat werk

orania-ovaalbaan-wie-eights

Die ‘wie eights’ van Orania se ovaalbaan. Foto: Verskaf.

Deur LJ Bothma

Karre en mouterbikes het my nog nooit juis geïnteresseer nie. Maar as daar ’n windgatmouter met uitruite en parmantige stertvinne op ’n sleepwaentjie by Aan die Oewer op Orania staan en sy naam is Masegat, dan kom daar ’n ding.

“Hierdie gaan ’n groot een wees. Hulle sê 85 karre kom jaag. Sorg dat jy vroeg daar is of jy kry nie plek nie,” waarsku ’n Oraniër my Saterdagoggend voor die bottelstoor. Hy betaal sy dop met Oras – Orania se eie geldeenheid.

My graad 6-seun wat Grand Prix-bedinges is, het my al Donderdag gemaak ry na ’n ou kwarriegat knap buite die dorp waar hy enjins hoor brul het. Toe nie sommer net ’n gruisgat waar die dorp se kwajongens naweke karre deur die gat pluk nie, maar ’n nuwerwetse ovaalbaan wat skrik vir niks.

Knap ná twee die middag toe sit ons al op een van die pawiljoentjies aan die noordekant. Agter die pawiljoen onder ’n haak-en-steekdoring braai paartjies in ’n ou wielvelling, nie in die minste gepla oor die karre wat oorkant die baan opge-rev word nie. Twee in swart het mekaar in ’n stewige greep beet.

Is dit Orania se mense?

Ek weet nie, want daar is motors en bakkies van oor die hele land – van Eastern Cape tot so ver as Limpopo Province.

Voor die pawiljoen bekla ’n kaalvoetkêrel in ’n kortbroek sy lot by sy pêl en dié se meisie: “Ek is gatvol vir daai ou. Hy is óf die hele tyd siek óf hy moet sy boetie gaan haal. Hy kom laat van lunch af en elke vyf minute wil hy sit.”

Arbeidsprobleme op Orania.

“Gaan jy maar net aan en doen jou werk,” is die raad uit die pawiljoen.

Klein Louis hou ons plekke terwyl ek vir hom ’n vlaggie gaan soek. Al die vlaggies is reeds uitgedeel en ek gebruik die kans om by Bittereinder Distilleerders in te loer.

“Dubbel: R20. Enkel: R15. Bottel: R150 – R220. Lank lewe die Boer. Trots Orania.” Ek stap tussen die bulderende gevaartes in wat regmaak om te jaag. Ek soek Masegat, maar sien twee warmgemaakte Golfies – Strauss Broers Konstruksie en ene Hansie.

Oor die luidsprekerstelsel word “Words Don’t Come Easy” uitgedoof. ’n Aankondiger bid: “Here wees met elke renjaer en beskerm hulle teen gevaarlike ongelukke en ernstige beserings. Dankie vir die wat ver gery het. Ons bid dat U hulle veilig sal teruglei”.

Die jaers in die sestien sestig-klas word geroep: Pieter Lombard, Tersius van Tonder, Izak Jones…

“Kom ons gee vir hulle ’n lekker handeklap.”

Hoog bokant ons hang ’n hommeltuig soos ’n korhaan wat plek soek om te gaan sit.

Die enjins brul en die karre peil op die eerste draai af; net om skeef-skeef soos windhonde vastrapplek te soek vir ’n volgende kort naellopie.

“Die beste plek waar jy op die oomblik in Orania kan wees, is langs hierdie ovaalbaan,” sê die aankondiger half uitasem. ’n Girokopter sirkel oor die stadion. Ek kan nie hoor wie gewen het nie. Klink na Tersius van Tonder?

“Terwyl ons wag vir die volgende wedren, kom ons ondersteun die stalletjies. Moenie te dors raak in hierdie stof nie. Kom ons luister weer ’n bietjie musiek.”

“Country roads, take me home…”

Ek het ’n blêddie knop in my keel. Ek tuur in die verte na niks spesifieks in die eindelose Karoovlaktes. Ek dink aan die keer toe ons op Orania teen die uitlanderkinders (almal so twee jaar te oud vir hul standerds) kom rugby speel het. ’n Dorp is op die suidoewer van die Oranjerivier gebou om die Spanjaarde, Italianers, Portugese en Duitsers wat Verwoerd se ambisieuse waterskema kom bou het, te huisves.

Vandag is dit die tuiste van ’n volgende groepie uitlanders – die Afrikaner self.

Op die baan is die volgende lot karre gereed om weg te trek. Dis Masegat teen Hansie, die Strauss Broers en ’n paar ander. Die aankondiger is in ekstase. “Die rooi Golfie, 022, is Hansie Botha – ook bekend as Mal Hansie!”

Die skare rondom die baan wat binne en buite hul voertuie stelling ingeneem het, gil van genot.

“Is dit lekker op Orania?” kom dit oor die luidsprekers.

“Jaaaaa!”, dreun dit reg rondom die baan.

Die rooi Golfie se bande kerm as Mal Hansie in die draai reg voor ons ingaan en amper van die baan af tol. Masegat is voor, maar Hansie bly enduit op sy gat en gaan hom byna by die geruite vlag op die eindstreep verby.

Die V8’s met hul linkerhandstuurwiele wat antikloksgewys om die baan gaan jaag, kry die groen vlag en pyl op die eerste draai af. Twee sussies en ’n boetie wat voor teen die reling staan, sien hier kom nou groot lawaai en druk hul ore toe.

Dit kook op die Ovaalbaan op Orania. Skuins agter die pawiljoen op die soom van die vlakte word die son ’n rooi vuurbal. Verbeel ek my, of sien ek vier swart mans – een met ’n wit langbroek – in die aandskemer by die hek inkom?

Orania jaag nie swartes, bruines en geles weg nie; hulle neem hulle net nie in diens nie. Wittes wat wil kom leeglê, steel en boom rook, is ook by die verkeerde adres. Hoog aan ’n paal wapper Orania se vlag in die aandwindjie met die motief van ’n seuntjie wat sy moue oprol.

Orania is iets anders as die ou Suid-Afrika van Verwoerd; ook nie die nuwe Suid-Afrika van Mandela nie.

“Those were the days my friend, we thought they’d never end,”speel oor die luidsprekers.

Op die baan gaan die wedrenne onder spreiligte voort. Nie van Eskom wat die krag om die beurt verskaf nie, maar ’n mobiele kragopwekker. Dit word laat. Ons moet nog gaan vleisbraai.

Die volgende oggend stop ons by die winkel om iets vir die pad te koop. Langs ons hou Orania se toerbussie stil. “Gratis begeleide toere. ’n Dorp wat werk.”

Ek hou op die grootpad reg langs die ovaalbaan stil.

“Hoekom stop ons hier?” vra Nonna.

“Ek wil ’n foto neem om vir mense te wys hoe lyk ’n dorp wat werk.”

Waar ure gelede honderde mense en karre was, lê nie eens ’n papiertjie nie. Net ’n klein seuntjie wat uitgelate rondhardloop terwyl sy pa iewers op die terrein doenig is.

Dit is Orania, ’n dorp wat ook maar sy probleme en uitdagings het, maar ’n dorp wat reg funksioneer.

Die enigste funksionerende dorp in Suid-Afrika? Tyd sal leer.

  • Bothma is ‘n skrywer en uitgewer. Hierdie artikel is verkort vir plasing en lesers kan die oorspronklike volledige weergawe op Bothma se Facebook-blad lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Besoeker aan Orania ·

Natuurlik funksioneer hulle reg.
Hulle werk hard en is nie korrup nie.
Hulle is mense met integriteit hoe moraal en rugraat.
Die beste is hulle is almal Afrikaans!

Oujongvrou ·

Behoede my van dit. Afrikaners kan nie saamstaan nie, is die onvriendelikste spulletjie, en skinder erg. Ons het weskus toe getrek, tot ons bittere spyt. Hier en daar sal n engelsman jou groet. Kleurlinge is baie baie vriendelik, maar in n jaar se tyd het nie een van ons bure kom groet of iets nie. Ek hoor ons word inkommers genoem. Ek het eers gegroet, kry geen terug hallo nie. Nou sit ons maar agter die huis waar niemand ons kan sien en vryf die honde. Nee wat, afrikaners ek wil niks van julle weet nie.

Wat is? ·

Ek sal baie graag wil weet by die skrywer wat n “gele” is. SIES MAN! Heeltemal rassisities en kruip agter die vieslike benoeminge weg. Nie-blank, kleurling, blank, indiër.. maar geel. Ek skaam my vir die loutere snert!. Bly ek hoef nie een van die man se gemors te lees wat hy skryf nie.

Dan ·

Goed geskrywe – ‘n geniet-leesstuk, wat jou laat voel of jy self daar sit terwyl die storie ontvou. En ek stem saam, Tyd sal leer.. Groot dinge kom.

Watch this space :)

Witflag. ·

Ek stem saam met oujong vrou. Die weskussers is maa suur outjies. Ons noem hulle “hooi peloy” My oupa het altyd so op sy tande gebyt en gese: hulle is so Hooi Peloy hulle kan nie eers hulle kos byt nie so styf trek hulle monde toe. Hulle kyk altyd anderpad, te bang n mens vra hulle iets. Maar Orania, dis n ander storie. Goeie ou Afrikaner respek en liefde.

marco polo ·

Baie oulike plek. Ek sal nie omgee om eendag daar te bly nie.

Elred Ferreira ·

Ek bly nou net meer as 8 maande en dis n lekker plek om te bly. Die dorp is min of meer misdaadvry en jou kinders kan vrylik in die strate loop en speel. Teenstanders van Orania sal jou graag wil laat glo dat die dorp abnormaal is, en dat dit die chaos van die Piesang Republiek is wat eintlik normaal is…..

Trotse Oraniër ·

Ons is nou amper nege maande op Orania. Mense hoef ons nie te glo nie maar dis regtig so lekker. Veral as jy in die gemeenskap en ons unieke kultuur inklim verstaan jy eers wat jy al die jare gemis het.

Gerrit ·

Ek kom self ook gereeld daar. Wil nog een jaar die karnaval ook bywoon. Baie lekker plek.

Jannie van Niekerk ·

Dankie Dr Bothma. Dit was nou ‘n lekker stukkie leesgenot. Wanneer skryf u weer ‘n lekker fiksie bundel?

PK ·

Oujongvrou. Jy is so reg. Ons het gedink dis ons huisgesin waarmee fout is. Het 2.5 jaar gelede uit die Kaap na Langebaan getrek. Ervaar presies dieselfde as julle. Het ook reeds by verskillende mense dit gehoor. Nee wat, Weskus is ‘n mislikke plek.

Skoolgeld ·

#Oujongnooi en #Witvlag! Die Kaap soos julle hom nou beskryf is op sy einde. Daar het op ñ stadium meer as 100 gesinne per maand van Gp af soontoe getrêk. As jy nie daar skool, kerk en grootgeraak het nie is jy nie van daar nie. Die dae is vir altyd verby waar ñ kind vir ñ ou mens plek op ñ bus gee en waar iemand ñ pot sop vir ñ siek mens vat. Tye verander, maar dit begin tog eintlik by jou!

Peter Rau ·

Langebaan is nou nie eintlik Weskus nie. Kan lê aan die Weskus maar is dik van stedelinge. As jy Weskus wil beleef, gaan verder Noord.

christo ·

Net die kwaliteit van sy taal laat veel tye wense oor,,Swak en gemengde taal is nie snaaks nie.Kom ons hou ons taal ook skoon

Stephan de S ·

Die artikel gaan eintlik oor Orania en nie oor die Weskus nie.

Maria ·

Lekker gelees, baie dankie!
Kry ook sommer ‘n knop in my keel…………..

PK ·

Die probleem is die werklike Weskussers het omtrent almal al Kaap toe getrek. Wat oorgebly het is ‘n mengelmoes van oor die hele land, In Langebaan omgewing in elk geval.

Boy van die Suburbs ·

Nice! Baie oulik en leesvriendelik geskryf! My plan is ook om in die toekoms Oraniä toe te emigreer……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.