Gedagte vir die dag: Ambassadeurs vir God

Stiltetyd_assisi-annelize.jpg

Foto: Annelize Brits

Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom. (1 Johannes 4:12)

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar ons wat die Heilige Gees het wat in ons werk, kan Jesus aan ’n sterwende wêreld uitleef. Kom ons doen dit vandag vir iemand wat alleen is, iemand wat rou of siek is.

Ek het eenkeer ’n pragtige storie gelees oor ’n sendeling wat na ’n stam kannibale is om die evangelie te gaan verkondig. Die kannibale het hom toegelaat om tussen hulle te bly, maar op een voorwaarde: Hy mag nie met hulle gepraat het oor God nie. Jare later het nog ’n skip met sendelinge daar aangekom, net om ’n vriendelike stam mense te kry wat hulle verwelkom het.

Terwyl die sendelinge die evangelie aan die mense verkondig, sien hulle dat die mense nie verbaas is om die verhaal van Jesus te hoor nie, en hulle vra: “Het julle al voorheen die storie gehoor?” Die mense het gesê: “Nog nooit.” Toe neem hulle die sendelinge na ’n graf toe en sê: “Die man van wie julle vertel het, het hier tussen ons gewoon. Dit is sy graf.” Hulle het natuurlik verwys na die eerste sendeling wat hulle van Jesus geleer het, nie deur woorde nie, maar deur die manier waarop hy geleef het.

Kom ons wees Jesus vir ’n wêreld wat lyk of dit heeltemal die kluts kwyt is. Kom ons wees liefdevol en gaaf. Kom ons staan op vir waarheid en geregtigheid.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.