Gedagte vir die dag: Bewondering word afguns

mense_vrolik_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” (1 Samuel 18:7)

Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou (1 Samuel 18:9).  

Toe Saul besef dat sy gewildheid deur Dawid s’n oorskadu word, het sy bewondering versuur. Die jong dapper kryger het vir hom ’n bedreiging geword. Hy het hom nie langer sy sukses en roem gegun nie. Hy was afgunstig op hierdie gewilde jong krygsman wat besig was om hom in alle opsigte te oorskadu. Dawid was jonk en vreesloos en gewild onder die vroue. Saul se keel het begin toetrek. Hy het besef dat Dawid se oornag-gewildheid selfs daartoe kon lei dat hy in sy plek koning word. In 1 Samuel 18:15 staan daar: En Saul was bang vir hom.

Saul se jaloesie het die oorhand oor hom gekry. Hy kon Dawid se teenwoordigheid in sy hofhouding nie langer verduur nie en het hom as hoof van ’n leërafdeling aangestel waar hy aan die voorpunt moes veg sodat hy makliker tydens ’n aanval kon sneuwel.

Jaloesie is inderdaad ’n monster. Dit ken geen rede of logika nie. Dit word ’n vretende vuur wat die jaloerse persoon verteer.

Saul se optrede klink vergesog. Ons sê vir onsself: Ek sal tog nie tot soveel uiterstes gaan nie.

Werklik? Om uit afguns teenoor iemand onwaar stories te versprei is so goed as om hom oorlog toe te stuur. Hy moet veg vir sy goeie naam, terwyl sy karakter in die spervuur is. Wanneer ek ’n vriendin uit pure naywer ignoreer of doelbewus uitsluit wanneer ek ander uitnooi na ’n verjaarsdag of sosiale byeenkoms, verbied ek haar as’t ware om langer deel van my intieme kringetjie, my “hofhouding” te wees.

Slegs die liefde kan jaloesie oorwin.

Here, ek wil onvoorwaardelik liefhê. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

melaney ·

Baie waar. “Saul” is ooral te sien in hierdie wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.