Gedagte vir die dag: Christus, die Tempel van God

kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie. (Markus 14:58)

Die skrifgeleerdes en Jode het nie verstaan dat Christus van Homself gepraat het toe Hy bogenoemde uitspraak gemaak het nie. Hulle geestelike oë en ore was toe. Hulle het net teen die fisiese tempelgebou vasgekyk. Hul reaksie was te verstane: Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig? (Johannes 2:20).

Christus sélf was die tempel van God. Sy liggaam sou aan die kruis sterf, maar ná drie dae sou Hy uit die dood opstaan. Met sy opstanding verrys die nuwe tempel, die geestelike tempel. Al die voorskrifte en gebruike van die ou tempelbedeling verval – ook die offerandes – omdat die volkome offer deur die liggaam van Jesus gebring is.

Deur Christus het alles nuut geword. Ons is deel van die nuwe bedeling. In 1 Petrus 2:4-5 word ons genooi: Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis.

Jesus Christus is die hoeksteen van hierdie “tempel”. Hy is die steen wat onwrikbaar vas staan en waarop die hele gebou met al sy stene verrys. Ons moet die oue agterlaat en na Christus kom. Hy is die hoeksteen van ons geestelike huis.

Here Jesus, dankie dat U deur u dood alles afgebreek het wat verhinder dat ons na U kan kom. Dankie dat ons lewende stene in u huis mag wees. Amen

Bron:  Oomblikke van stilte deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.