Gedagte vir die dag: Dalk die groot ramp

hartseer-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. (Romeine 8:28)

Egskeiding is die ramp wat mens nooit wil hê moet gebeur nie. Maar dit gebeur in omtrent 18% van huwelike in Suid-Afrika (in 2017 was daar 25 390 egskeidings teenoor 135 458 huwelike, met dieselfde patroon wat jaarliks herhaal). Maar as dit met ons twee gebeur, is dit ’n 100%-ramp, nie net 18% nie. As dit met julle gebeur het, wat het daaruit gegroei? Ten slegste: dalk voortgaande konflik, bitterheid, blamering, skade by kinders. Ten beste: insig, verantwoordelikheid, vergifnis, ’n nuwe lewenstyl.

Die keuse tussen goeie en slegte gevolge is ’n geloofskeuse. Dan stap ek ’n pad saam met die Here, wat selfs die slegte – selfs my foute, selfs ’n ander se boosheid – ten goede laat meewerk. Maar dit is mééwerk – waar ekself iets moet doen en nie net vanself gesond word nie. Daarom moet elkeen ná die trauma van egskeiding hulp soek. Berading, terapie en begeleiding is nodig, want die doen-dit-self-metode werk nie goed genoeg nie. As dit jou verlede is, het jy so herstel? Indien nie, dis selfs nou nodig.

Maak die belofte in Romeine 8:28 jou eie.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.