Gedagte vir die dag:  Die Goddelikheid van vergeet

hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 25:1-10

Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. (Psalm 25:6-7)

Hier is die regte psalm vir mense wat rigting soek. Hulle wat om die een of ander rede die pad byster geraak het, wat bang is dat hulle deur teenstanders van koers gedwing sal word. Dalk onthou hulle hoe maklik hulle vantevore al geswig het …

“Maak my u wil bekend, Here,” vra die digter dus. “(L)eer my u paaie” (v. 4). Goddank, sê hy, sy verwagtings is nooit tevergeefs nie. “Die Here … wys selfs vir sondaars die pad aan …” (v. 8). By Hom word hulpeloses gehelp (vgl. v. 9).

Daar is nog net die een ding, Here: Vergeet asseblief my verlede! (vgl. v. 7). Hou tog nie die dinge teen my wat ek destyds so beknoei het nie. Ja, as ek mag vra: Laat die ou koeie tog in die sloot bly lê.

Wat ’n vreemde versoek. Byna lasterlik, nie waar nie? Is “onthou” dan nie een van God se vername eienskappe nie, en maak ons nie juis daarop staat dat Hy ons onthou wanneer ons Hom vergeet nie? Herinner verskeie Bybelskrywers, en juis vele psalmdigters, Hom dan nie aan sy beloftes van vroeër en sy goedheid in die verlede nie? (Kyk Psalm 4, Psalm 16, Psalm 22, Psalm 42, en talle ander.)

Tipies! wil ons sê. Só is mense met hul selektiewe geheue, skepsels wat net onthou wat hulle wíl onthou. Nou maak hulle vir hulle ’n god wat by hulle pas.

Totdat ons onthou: Dit is hoe Hy is. Dit is, goddank, Hý: die God wat onthou wat Hy wil, en vergeet wat Hy wil. Alles, álles, ten bate van sy verwarde, skuldbelaaide kinders.

U het my onthou – halleluja! U vergeet my ellendige geskiedenis – ek prys u Naam!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Riana ·

Dankie vir die pragtige stukkie om net weer te onthou hoe GROOT God se genade is. Ek sit vandag met n hartseer want ej verlang my kleinkinders en my kinders, my ou moeder van 89. Ek moet vandag kort kort n traan afvee. Dan verseker vandag se stukkie my, weer trane afvee oor dankbasrheid, my God leef en Hy slaap nie ek sal hulle weer sien want Hy hoor my gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.