Gedagte vir die dag: Dink met dank – my werkplek

Snoei_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie. (Spreuke 22:29)

In ons elkeen se lewensverhaal speel ons werk ’n enorme rol. Dit gee aan ons ons identiteit. Dis een van die eerste dinge wat ek vir iemand vra of van myself sê: Ek is ’n besigheidsman/bestuurder/boekhouer/dokter/onderwyser. Dit maak ongeveer een derde van my lewe vol, en dis waarvan ek lewe. As ek dit geniet, maak dit my ’n tevrede mens. Maar dis ook die bron van baie stres en dit kan my hele lewe versuur.

Hoe dien ek die Here by my werk? Dit begin met die wete dat al sewe dae van die week aan die Here behoort en dat my daaglikse werk godsdiens (diens aan God) is. As ek daar die Groot Gebod uitleef, is dit ewe belangrik as liefde tuis en godsdiens in die kerk. Ek dien die Here met die gehalte van my werk. Spreuke praat met afsku van luiheid en deel die pragtige wysheid dat iemand wat vaardig is in sy werk, deur konings in diens geneem word. Dis meer as net bevordering, dis diens aan die Koning van hemel en aarde.

Lees Spreuke 22:29 in die Bybel in Afrikaans 1933/1953. Dit sê: “hy kan voor konings staan.”

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here wat n voorreg om n werk te kan he,, om tevrede en vergenoegd te wees, my gebede vir so baie wat so graag wil werk..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.