Gedagte vir die dag: Dink met dank – Ons eerste jare

mense_bankie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. (Kolossense 3:12-13)

’n Wittebrood is gewoonlik baie kort, maar tog baie spesiaal. Daarna begin mens ’n lewe deel, mekaar se vreugdes en swaarkry sáám beleef. Natuurlik is daar aanpassings, en die eerste saamleef-jare is ’n soektog en ontdekkingstog. Soms kan mens lekker grappies maak oor al die foute, maar liefde is die dryfkrag wat jou positief laat probeer aanpas. Soms is die aanpassing pynlik.

Maak jul grappies daaroor of word dit eerder verswyg? ’n Huwelik is God se geskenk, maar ook God se beste oefenskool om jou te help om al die eienskappe van Christenwees uit te leef. Die belangrikste taak in hierdie tyd is om jouself te verander, nie om jou maat reg te kry nie. Maar dis ongelukkig nie ons natuurlike styl nie. Ons verkies om die ander se foute uit te wys en verwag van die ander om “reg  te kom”.  Toets vandag jouself: Hoe ver het jy gevorder om die eienskappe van Kolossense 3:12-13 uit te leef?

Jou toetslysie vir die huwelik is in Kolossense 3:12-13. Meet jouself baie eerlik.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.