Gedagte vir die dag: Dis meestal goed om ’n doener te wee

hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister. Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself.  (Jakobus 1:19, 22)

Om ’n dóéner te wees, is ’n baie goeie eienskap. Selfs die Bybel vra dat ons dáders van die Woord moet wees. Veral mans wil graag iets dóén, veral as hul vrou of kind met iets sukkel. Maar hierdie mooi eienskap kan ook soms verkeerd loop – as ons swak luisteraars is. Dan spring ons weg en doen iets vir ons geliefdes voordat ons baie seker gemaak het dat dit die regte ding is.

Soms wil ’n vrou met haar man gesels bloot net om haar gevoelens met hom te deel, nie sodat hy alles moet oorneem en dit namens haar doen nie. Soms kweek jy afhanklikheid en uiteindelik swakheid by ’n kind as jy oorneem, en hulle nie leer om dinge self te hanteer nie. Daarom moet daders eers goeie luisteraars  wees. Wanneer jy dan verstaan wat die ware behoeftes is, sal jy iets kan doen wat ware hulp is, iets wat pas by die gesonde behoefte. “Daders van die Woord” begin by die Woord. Luister eers na God se woorde, en doen dan.

Jakobus 1:19 én 22 is nodig om balans te kry in die uitlewing van jou geloof.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.