Gedagte vir die dag: Doen wat jy sê

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kyk mooi, julle vorder niks nie, die hele mensdom loop agter hom aan! ( Johannes 12:19)     

Ons hoef nie mense te oortuig van die soewereiniteit en die wonderwerkende krag van Jesus Christus nie. Al wat ons hoef te doen, is om aan te hou om die Here te loof en te eer; Hy sal die res doen.

Toe die mense vir Lasarus in die straat sien stap het, het hulle vir Jesus Christus begin volg, want Lasarus was ’n lewende wonderwerk. Pas ons dade by ons woorde? Wanneer mense ons sien, wil hulle die Here Jesus Christus volg? Wanneer hulle na ons gesprekke luister, wanneer hulle na ons optrede kyk, wanneer hulle ons nederigheid, ons liefde en ons deernis sien, trek dit hulle nader aan die Man van Galilea en loop hulle agter Hom aan? Kom mense na ons toe en vra: “Wat is dit wat jy het? Want wat dit ook al is, ek wil dit ook hê”? Dan is dit natuurlik net ’n formaliteit om hulle aan die Koning bekend te stel.

Ons moet God vertrou om op ’n bonatuurlike manier in ons lewe in te gryp. Ons moet begin leef deur te glo, en nie deur te sien nie. Ons moet glo in dié dinge wat “nie is nie” asof dit wel bestaan. Anders raak ons soos die wêreld – negatief, depressief, sonder enige hoop. Ons moet mekaar aanmoedig om lewe oor mekaar uit te spreek. Dit kan net gebeur as ons tyd afstaan om die Woord van God te lees.

Die wêreld het agter Jesus aan geloop omdat Hy iets gehad het wat hierdie wêreld nie kan bied nie – en dit is hoop. As die wêreld ooit hoop nodig gehad het, is dit nou. Namate ons die oordeelsdag al hoe nader sien kom, klink die woorde van die boek Openbaring al hoe meer waar: “Die goddeloses sal al hoe goddeloser word, en die regverdiges al hoe regverdiger.”

Ek sien met my menslike oë die krag van God soos ek dit nog nooit voorheen gesien het nie – dalk omdat ek nog nie voorheen so daarvoor gesoek het nie. Ek pleit by jou, neem vandag ’n besluit om die beloftes wat God oor jou uitgespreek het te glo, en nie die leuens van die duiwel nie. Dan sal mense Christus in jou sien en agter Hom aanloop.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.