Gedagte vir die dag: Draai weg van jou goddelose paaie

Pad_vurk_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Toe God sien dat hulle opgehou het om verkeerd te doen, was Hy hulle genadig. Hy het daarvan afgesien om hulle te vernietig soos Hy gedreig het om te doen. ( Jona 3:10) 

Om die boek Jona te lees, bring vir my soveel blydskap en hoop. Ons God is die genadige en vergewende God. Hy was van plan om die stad Nineve te verwoes, ’n stad so groot dat dit, volgens die Bybel, drie dae geneem het om daardeur te stap. God het gesê Hy sou die stad oor 40 dae vernietig. En tog, toe Hy sien hoe die mense hulle bekeer en van hulle goddelose paaie af wegdraai, het Hy van plan verander en vir hulle nog ’n kans gegee.

Wanneer jy vandag hierdie oordenking lees, wees verseker dat daar niks is wat God jou nie sal vergewe nie. God is die genadige God. As Hy sien jy dra waarlik die vrugte van berou in jou lewe, sal Hy jou red. Die Bybel belowe verlossing: “Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid … ” (2 Kron. 7:14). Dit is wat die mense van Nineve gedoen het toe Jona na hulle toe gegaan en vir hulle gesê het wat God sou doen.

Jesus het vir die aanklaers van die vrou wat op owerspel betrap is, dié wat haar wou stenig, gesê: “Laat die een wat glad nie sonde het nie die eerste klip op haar gooi.” Natuurlik kon niemand ’n klip gooi nie en almal is daar weg. Jesus het vir haar gesê: “Gaan en moenie meer sonde doen nie. Jou sondes is vergewe.” Ek is so lief vir die Here! Hy is die vriend van sondaars soos ek. Dit maak nie saak wat ons vandag gedoen het nie. Dit maak nie saak watter sondes ons gedoen het nie. As ons opreg berou het, wat beteken ons hou op om dit te doen, en ons nader tot God, sal Hy ons vergewe en ons red. Die enigste verskil tussen Petrus en Judas Iskariot was dat Petrus berou oor sy dade gehad het, maar Judas nie. Judas het die Here Jesus een keer verraai; Petrus het die Here drie keer verloën. Maar Petrus het berou gehad oor sy dade, en Judas nie.

Wanneer jy vandag jou dag aanpak, gaan staan voor die Here, vra sy vergifnis vir al jou sonde en laat Hy jou lei. Romeine 8:1 sê: “Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.” Wanneer die Here jou vrymaak, sal jy waarlik vry wees.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Africangrey ·

Mariius, dis waar, miskien omdat hy die geld teruggeneem het, ipv om vir die Heere vergifnis te vra? Ek weet ook nie.

OW ·

Lees Sagaria 11:4-17 waar die profeet meer lig werp oor die Judas gebeure.

Marius ·

Dit is waar, en word so deur Petrus in Hand 1 geïnterpreteer. Maar nóg ons, nóg Petrus, kan namens God oordeel. Dit is alleen die Here se prerogatief.

Marius ·

God vergewe soms sonder dat ons ons sonde hoef te bely. Hy het Petrus so vergewe, die vrou wat in egbreuk betrap is ((Joh 8), die sondaar aan die kruis, ens. God sien die mens se bittere berou oor ‘n saak, en vergewe dan. Dit sê egter nie dat ons nooit ons sonde hoef te nie, bv. soos Jesus ons leer in die “Onse Vader”-gebed, en 1 Joh 1:9. In Judas se geval is dit vir my duidelik dat hy wel berou gehad het. Of God hom vergewe het, beroep ek my op die aard en die syn van God as liefde.

Carel Johannes ·

Judas was bitter spyt oor sy verraad maar te laat. In Heb 6:4-6 lees ek as volg: Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het, en nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ‘n bespotting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.