Gedagte vir die dag: Die evangelie met jou lewe geskryf

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons het hierdie skat maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. (2 Korintiërs 4:7)

Die legendariese T.E. Lawrence (1888-1935), beter bekend as “Lawrence of Arabia” het Arabiese soldate ’n keer deur die Nefud-woestyn gelei. ’n Man genaamd Gasim het weggeraak. Lawrence is meegedeel die dood is sy voorland. “It is written,” het ander soldate gesê. Lawrence het verskil. Hy het Gasim gaan soek en hom gevind. Ná die tyd het Sherif Ali oor Lawrence gesê: “Truly, for some men nothing is written unless they write it.”

Paulus was ook so iemand. Hy moes ten alle koste sy eie opgewondenheid oor die evangelie wêreldwyd deel. In ’n wêreld sonder enige tegnologiese hulpmiddels het hy meer as 17 000 kilometer te voet afgelê. Hy het kerke oor die hele Romeinse Ryk geplant. Op kreatiewe maniere het Paulus hierdie wêreldwye beweging van gelowiges bymekaar gehou met sy briewe en besoeke. Dit het hom duur gekos. ’n Volle 195 merke op sy rug het vertel van die vyf keer dat die Jode hom gegesel het. Hy is ook drie keer deur die Romeine geslaan. Paulus was dikwels in gevaar (2 Korintiërs 11:24-29). Hy was ook dikwels in die tronk. Tussendeur was Paulus deeglik bewus van sy eie swakheid (2 Korintiërs 4:7; 12:9-10). Maar Christus was sy hele lewe. Daarom het hy ’n storie help skryf wat vandag nog mense se lewens verander. Skryf en leef dit agterna. In ’n sekere sin is niks oor die evangelie nog geskryf totdat jy dit nie met jou eie lewe geskryf het nie.

Bron: Gereed vir vandag deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.