Lees Psalm 72:1-7
Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil … (Psalm 72:1)
Wat maak onderdane wanneer hulle iets van hul koning wil hê, maar hulle het geen toegang tot die troon nie? Wat maak diegene wat aan gesag en selfs mag uitgelewer is waaroor hulle geen beheer het nie?
Eenvoudig: Hulle bid. Hulle vra die Koning van die konings om hulle te help. Hulle het immers toegang tot Hom. Hulle weet dat sy gesag en sy mag onderhewig is aan sy liefde. Hulle ken Hosea 11.
Psalm 72 is veel meer as ’n loflied aan ’n koning; dit is ’n smeekroep na ’n Koning. Ons het reeds aan die begin van hierdie jaar vasgestel dat dié psalm ’n desperate gebed bevat van mense wat die beskerming van die Koning nodig het in ’n wêreld wat met ’n ystervuis geregeer word.
En wat daarvan as dié gebed deur ’n koning self gebid word? As ons die “Van Salomo” aan die begin en die “Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai” aan die einde in ag neem?
Is dit nie dan selfs veelseggender nie? Dié dat ’n baas weet om laag voor die Baas te buig? As hy weet waar sy hulp vandaan kom wanneer hy die armes en die verdruktes hoor roep? As hy ’n kragtiger hand as sy eie soek wanneer die triomfantelike gebulder van die verdrukkers in sy ore weerklink?
“Ek weet hoe afhanklik ek van God is” was nog altyd die eerste nota in ’n koninkrykskind se paspoort. As daardie bevoorregte mens boonop deur die Koning in die een of ander gesagsposisie aangestel is en vertrou word, is hierdie inskrywing boonop die kosbaarste ooit.
Ek ken my beperkings, o Koning. Daarom bly my oë op U gerig.
Here aan U al die lof en dank en eer en genade vir n mens
En vanaf nog ‘n mens, O Groot Koning!