Gedagte vir die dag: Gebruik jou tyd slim

koringveld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. (Johannes 12:24)

Tydens een van ons vroeëre Mighty Men-saamtrekke op die plaas was daar ’n ou man wat met sy klein bakkie daar aangekom het. Hy het sy eenmantentjie opgeslaan en oor die plaas uitgekyk. Niemand het hom eintlik raakgesien nie. Hy was stil en het dit bloot geniet om in die teenwoordigheid van God te wees.

Daardie aand, terwyl die mense nog steeds plaas toe gestroom het, kon ek nie slaap nie. Ek was so opgewonde. In die middel van die nag het ’n paar mans na ons huis toe gekom en vir my kom sê dat iemand pas oorlede is. Ek het dadelik gedink: Wel, dit is die einde van die saamtrek. Tog het die teenoorgestelde gebeur.

Toe almal besef het die ou man het na Jesus toe gegaan, het daar ’n geweldige ernstigheid oor die kamp neergedaal. Daar was baie sondebelydenis, ’n gehuil en baie nederigheid. Duisende mans het begin beplan hoe hulle hulle lewe gaan regruk. Hulle het besef dit is nie ’n speletjie nie, dit is ernstig.

Jy moenie so begaan wees oor hierdie lewe nie, wees eerder gereed vir die lewe wat kom – ons weet immers nie hoeveel tyd ons oorhet nie. Laat ons die tyd wat ons het, gebruik om vir ander mense van Jesus te vertel en so ’n positiewe impak op hulle lewe te hê.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.