Gedagte vir die dag: Deur die vuur

Argieffoto (Foto: Courtney Cook/ Unsplash

“Daarom dan, terwyl ons so ʼn  groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:1-2).

Skrifgedeelte
Hebreërs 12:1-2

Oordenking
Jesus het gely voor Hy teruggegaan het hemel toe om by sy Vader te wees. Miskien is jy ook vandag in die vuur en jy sê: “Here, daar is nie ʼn uitweg nie. Waarom doen U dit aan my? Here, waarom kry ek so swaar?” Miskien is dit sodat daardie onsuiwerheid, die gemors, uit ons weggebrand kan word. Ek praat van trots, arrogansie en selfgesentreerdheid. Nie meer my wil nie – dit werk nie. Al wat werk, is God se manier, en God leer ons deur beproewings en lyding om dinge te waardeer.

Boere wat uiterste droogte en vernietigende veldbrande beleef het, waardeer reën meer as enigiemand anders omdat hulle vir jare nie reën gehad het nie. Ek het al groot, sterk boere sien huil, en tog was die Here al die tyd daar. Nee, Hy het nie die droogte veroorsaak nie, maar Hy het met hierdie boere daardeur gewerk. Onthou dit altyd. God sal nooit ʼn gebroke en berouvolle hart verwerp nie (Psalm 51:19).

Verdra vandag daardie pyn, want dit is elke Christen se simbool – die kruis. Dit is die kruis van lyding, en God sal jou deurdra. Hy sal van jou ʼn beter man of vrou maak as gevolg daarvan.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.