Gedagte vir die dag: Die geheim vir jou lewe

Argieffoto (Foto: Neom/Unsplash)

“God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê. Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef” (Psalm 119:1, 11, 24).

Skrifgedeelte
Psalm 119:1, 11, 24

Oordenking
Jy kry letterlik honderde boeke op die mark op die trant van The Seven Steps to Success of Die tien stappe tot ware geluk. Die boeke is gewoonlik blitsverkopers. Mense soek naarstiglik daarna om suksesvol, gelukkig of welvarend te wees. As jy dit nog kan regkry deur net ʼn paar stappe te volg, des te beter.

Wel, dit is nie waar nie en nie moontlik nie. Baie min mense het die stappe al slaafs nagevolg en uitgekom by die uiteindelike, beloofde droom of ideaal van rykdom, sukses of geluk.

Dit is iets anders as God iets beloof. Ja, God het ook ʼn boek en jy ken dit baie goed: die Bybel. Die enigste Boek wat werklik ʼn verskil in jou lewe sal maak, is die Bybel. Die enigste Boek wat vir jou die pad na die ware lewe aandui, is die Bybel. Dit is beginsels wat die moeite werd is om te volg. Ja, dit is nie maklik nie, veral nie in die dekadente tyd waarin ons vandag leef nie. Baie mense lag die Bybel af en maak dit af as outyds of oudmodies.

God se Woord is ʼn praktiese handleiding. Dit is ʼn praktiese Boek wat gaan oor die lewe en verhoudings. Dit is ʼn Boek wat vir jou leer en wys hoe om werklik te leef en ook waaroor die lewe eintlik gaan. Dit is die moeite werd om tyd met God se Boek deur te bring – daardeur sal jy jou pad suiwer en skoon hou.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.