Gedagte vir die dag: Die Suiweraar

Argieffoto (Foto: Aperture Vintage/ Unsplash)

“Ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting” (Romeine 5:3-4).

Skrifgedeelte
Romeine 5:3-4

Oordenking
Kry jy swaar op die oomblik? Gaan jy op die oomblik deur ʼn beproewing? Ek verseker jou, ek het nog nooit iemand ontmoet wat sy sout werd is, wat nie deur ʼn vuurdoop gegaan het nie. Vuur suiwer; dit neem vullis uit en dit verbrand al die vuilheid uit ons lewens uit. Tensy ons nie daaruit leer nie, is dit nooit nutteloos nie. As ons nie daaruit leer nie, sal ons weer deur die vuurdoop moet gaan tot ons daaruit geleer het. Die Here dissiplineer en tugtig dié wat Hy liefhet.

Hebreërs 12:11 sê: “Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ʼn rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ʼn vredevolle oes oplewer van ʼn lewe volgens die wil van God.”

Ons moenie bang wees vir swaarkry, pyn of lyding nie, want ons is nie alleen in daardie vuur nie. Onthou, Jesus gaan saam met jou daardeur. Hy verstaan hoe pynlik dit is, want Hy is die Een wat die snoeiwerk doen. Hy hou die snoeiskêr in sy een hand, maar moenie vergeet dat daardie hand ʼn gat in het nie – dit is daar gemaak deur ʼn geroeste ou spyker – en soos Hy ons snoei, ly Hy ook saam met ons. Moet daarom nie bang wees vir lyding nie. Vertrou Hom, want Hy sal jou deurdra.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.