Gedagte vir die dag: Hy het gekom om te red

Argieffoto (Foto: Bruno van der Kraan/Unsplash)

“Die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ʼn ander dorp vertrek” (Lukas 9:56).

Skrifgedeelte
Lukas 9:56

Oordenking
Jesus het nie gekom om mense te veroordeel nie. Hy het gekom om ons te red, om die verlorenes te red. Jakobus en Johannes het dit verkeerd verstaan. Hulle het baie kwaad geword toe hulle by ʼn dorpie kom en plek gereed wou maak vir Jesus om die nag daar te slaap en toe word hulle uit die dorpie gejaag. In hulle woede het hulle gevra of hulle vuur uit die hemel moet afbid om die mense te verbrand (vers 54). Maar Jesus het gesê: “Nee, ek het gekom om hulle te red.” Ek en jy moet geduld hê met mense. Ons moet onthou watter pad ons gestap het.

Ek wonder dikwels wat mense gedink het toe ek en Jill en ons kinders meer as 40 jaar gelede vir die eerste keer by daardie klein kerkie ingestap het daardie Sondagoggend. Hulle moes omgedraai en gedink het: Kyk wat het die kat ingedra. Maar die Here skryf nooit mense af nie. Hy het ons kom red. Moet nooit ander mense afskryf nie; hou die deur altyd wyd oop.

Jesus het die evangelie vir ons kom aanbied – nie met dreigemente of vrees nie. In Matteus 11:28 sê Hy: “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.” Vra die Here om vandag vir jou te wys wie jou hulp nodig het. Gaan in geloof na hulle toe en red hulle in die Naam van die Here Jesus Christus.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.