Gedagte vir die dag: ʼn Sagte antwoord

Argieffoto (Foto: Sixteen Mileso/Unsplash)

 “ʼn Humeurige mens sit twis aan die gang. ʼn Verdraagsame mens sit ʼn stryery stop” (Spreuke 15:18).

Skrifgedeelte
Spreuke 15:18

Oordenking
ʼn Goeie vriend het vir my ʼn storie gestuur met die titel, The Last Pamphlet. Dit is die verhaal van ʼn 11-jarige seuntjie wat Christelike pamflette op ʼn koue, reënerige dag uitgedeel het. Nadat hy vir omtrent twee ure rondgeloop het, was hy sopnat. Hy het nog een pamflet oorgehad en hy gaan klop toe aan die deur van ʼn huis. Hy het die klokkie gelui en geklop, maar niemand het oopgemaak nie. Toe hy uiteindelik omdraai om te loop, het ʼn ou vrou die deur oopgemaak en gevra: “Kan ek help?” Hy het geantwoord: “Mevrou, ek wil net sê Jesus het jou baie lief. Ek wil vir jou ʼn pamflet gee wat vir jou alles sal vertel van Hom en sy groot liefde vir jou.”

Die sagte, vriendelike groet op daardie koue, miserabele dag het ʼn ou vrou se lewe gered. Jy sien, sy was op die punt om selfdood te pleeg, maar daardie nat glimlaggende gesig wat by die deur gestaan en met vriendelike woorde van Jesus vertel het, het letterlik haar lewe gered. ʼn Week later het sy haar getuienis in die kerk gegee. Sy was nou ʼn volgeling van Jesus Christus, want daar was ʼn klein seuntjie wat soos ʼn engel was en vir haar van Jesus kom vertel het. Daarom was sy nie meer eensaam nie.

Gaan vandag uit en bemoedig iemand met ʼn glimlag en vriendelikheid. Jy red dalk iemand se lewe.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MrMagic ·

Spreuke 15 is wonderlik;

SPREUKE 15
1 ‘n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.
2Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel.
3 Op elke plek is die oë van die Here, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.
4Sagtheid van tong is ‘n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.
6In die huis van die regverdige is ‘n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring.
7Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie.
8Die offer van die goddelose is vir die Here ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.
9Die wandel van die goddelose is vir die Here ‘n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.
10’n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.
11 Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die Here, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!
12Die spotter hou nie daarvan dat ‘n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie.
13 ‘n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.
14Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om.
15Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.
16 Liewer ‘n bietjie in die vrees van die Here, as ‘n groot skat en onrus daarby.
17 Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.
18 ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.
19Die weg van die luiaard is soos ‘n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak.
20’n Wyse seun verbly sy vader, maar ‘n dwase mens verag sy moeder.
21Sotheid is ‘n vreugde vir die verstandelose, maar ‘n man van verstand wandel reguit.
22Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.
23’n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is ‘n woord op sy tyd!
24Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk.
25 Die Here ruk die huis van die trotsaards om, maar die grenslyn van die weduwee stel Hy vas.
26Die planne van die slegte is vir die Here ‘n gruwel, maar vriendelike woorde is rein.
27Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.
28Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel.
29Die Here is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.
30 Stralende oë verbly die hart; ‘n goeie tyding maak die gebeente vet.
31Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef.
32Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand.
33 Die vrees van die Here is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.