Gedagte vir die dag: Pasop om ander onregverdig te oordeel

Argieffoto (Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

“Die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ʼn klip optel en haar daarmee gooi” (Johannes 8:7)

Skrifgedeelte
Johannes 8:7

Oordenking
Jy kry mense wat ander die hele tyd dophou en dan met die nodige passie bespreek, kritiseer en afkraak. Hulle is daarop uit om fout te vind. Niemand is goed genoeg nie en niemand doen dinge goed genoeg nie. Die meeste van die tyd is die hele poging natuurlik om hulleself te regverdig. Deur ander af te trek lyk hulle beter.

Dit is hoe die Fariseërs was. Hulle kom by Jesus aan met ʼn arme vrou wat op heterdaad betrap is toe sy seksueel ontrou was aan haar man. Hulle voel baie sterk dat sy met klippe doodgegooi moet word, maar wil kamtig hoor wat Jesus te sê het. Op dié manier stel hulle ook ʼn strik vir Jesus. Jesus slaan hulle egter vir ʼn ses (soos in krieket) deur te antwoord dat die een wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie die eerste klip moet gooi. Stil-stil het hulle weggeloop.

Ken jy mense wat so is – altyd krities of besig om fout te vind met ander? Ek hoop van harte dat jy nie so is nie, want sulke mense verstaan nie genade nie. Dit is tyd dat mense, soos Jesus, genade teenoor mekaar uitleef en mekaar ophou verskeur en uitmekaartrek. Bou mekaar eerder op met bemoedigende woorde en komplimente.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.