Gedagte vir die dag: Ploeg reguit

Argieffoto (Foto: Nikolai Artamonov/Unsplash)

“En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie” (Lukas 9:62).

Skrifgedeelte
Lukas 9:62

Oordenking
Daar is nie omdraaikans vir ons nie. Waarom wil ons teruggaan Egipte toe? Is dit om waatlemoene en komkommers te eet en plek te hê om ons dooies te begrawe? Dit is wat die kinders van Israel wou doen toe dinge moeilik raak in die woestyn. Hulle wou hê Moses moet hulle terugvat na die bekende plekke. Ons kan onmoontlik reguit ploeg as ons aanhou agtertoe kyk. Die Bybel sê vir ons in Johannes 8:36: “As die Seun julle bevry, sal julle regtig vry wees.” So, waarom wil jy teruggaan? Ons moet vorentoe beur. Ons moet werklik ons oë op die hemel hou, op die ewigheid.

Jare gelede het ek die storie gehoor van ʼn vet makou met klein vlerkies. Hy het nooit in sy lewe gevlieg nie, hy het net heen en weer in die hoenderhok deur al die modder gehardloop terwyl hy sy vlerkies geklap het. Hy het oorgenoeg gehad om te eet – dit was ʼn goeie lewe. Eendag het hy in die lug opgekyk en die geroep van ʼn swerm ganse in V-formasie gehoor. Hulle was nie vet nie; hulle was eintlik skraal. Hulle het selfs ʼn paar gate in hulle vlerke gehad van een of ander boer se jaggeweer, maar hulle was vry – inderdaad vry. Ons moet ons oë op die doelwit – die bestemming – hou.

Hou vandag jou oë op die doelwit en moenie terugkyk nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.