Gedagte vir die dag: Toe deure en oop deure

Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

“Twee name is toe opgegee: Josef Barsabbas en Mattias. Toe het al die gelowiges gebid en gesê: “Here, U weet presies wat in mense se binneste aangaan. U ken ons almal deur en deur. Wie van hierdie twee mans wil U hê moet Judas se plek as apostel oorneem?” Daarna het hulle lootjies getrek. Mattias is as die nuwe apostel gekies” (Handelinge 1:23-26).

Skrifgedeelte
Handelinge 1:23-26

Oordenking
Mense kan baie gou en gewoonlik onnodig mismoedig word. Dit gebeur gewoonlik as jy nie jou sin kry nie of as dinge anders uitwerk as wat jy gedink of gehoop het. Elke probleem of slaggat in die lewe is niks anders as ʼn geleentheid nie. Dit kan gebeur dat die Here ʼn deur in jou lewe toemaak doodgewoon omdat Hy ʼn deur op ʼn ander plek gaan oopmaak en jou so in die rigting stuur wat Hy vir jou lewe beplan het.

Judas het Jesus liederlik verraai met daardie berugte soen waarvoor hy ʼn klomp geld ontvang het. Daar was dus nou elf dissipels oor en hy moes vervang word. Twee name is opgegee: Mattias en Josef Barsabbas. Die dissipels het gebid en toe lootjies getrek. Mattias is op dié manier as die nuwe apostel gekies. Dit het nie die einde van die pad vir Josef Barsabbas beteken nie, maar wel die begin van ʼn nuwe pad. Hierdie is God se pad vir Mattias en iets nuuts en anders wag op Josef Barsabbas.

Dink ʼn bietjie terug aan die moedelose tye in jou lewe wat jy net wou moed opgee. Jy kan God vertrou vir oop én toe deure. God sal vir jou deure oopmaak op die paaie waar Hy jou lei. Vertrou Hom daarvoor.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.