Gedagte vir die dag: Tyd saam met Jesus

Argieffoto (Foto: Fa Barboza/ Unsplash)

“Wat kos vyf mossies? ʼn Paar sent? Tog vergeet God nie één van hulle nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ʼn hele swerm mossies” (Lukas 12:6-7).

Skrifgedeelte
Lukas 12:6-7

Oordenking
Miskien voel jy vandag ʼn bietjie eensaam en dink niemand gee vir jou om nie. Ek wil jou verseker dat Jesus omgee. Hy weet selfs hoeveel hare daar op jou kop is. Jy hoef nie alleen te voel nie. Ons het ʼn Vriend wat nader aan ons is as ʼn broer (Spreuke 18:24). Jesus gee so baie vir ons om dat Hy selfs sy eie lewe vir ons neergelê het om ons te red. Johannes 15:13 sê: “Niemand het ʼn groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.”

Praat vandag met Hom; Hy wag werklik om van jou te hoor. Vertel vir Hom van al jou probleme en vrese. Hy het baie tyd om na jou te luister. Hy is nooit haastig nie en Hy is ʼn goeie luisteraar – iets wat skaars is in ons tyd.

My vrou is my beste aardse vriend. Sy ken my so goed. Sy weet van watter kos ek hou, watter soort boeke ek graag lees en selfs watter klere ek graag dra. Sy weet ook wie in die Bybel my helde is. Ons kan in ʼn vertrek vol mense wees en oor ʼn afstand net vir mekaar kyk en deur oogkontak met mekaar kommunikeer. Dit is omdat ons baie tyd saam deurbring. Bestee vandag meer tyd saam met Jesus. Daar is soveel meer wat Hy vir jou wil wys.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.