Gedagte vir die dag: Ware lewe of struikelblok

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestem tot ʼn val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ʼn teken wat weerspreek sal word” (Lukas 2:34).

Skrifgedeelte
Lukas 2:34

Oordenking
Daar is baie produkte op die mark wat jy kan koop, of wat dalk reeds in julle huis is, wat ʼn mens positief of negatief kan gebruik. Met ʼn knipmes kan jy rustig voor die TV sit en biltong kerf terwyl jy rugby kyk. Met daardie selfde knipmes kan jy iemand ernstig beseer of selfs doodmaak. Met ʼn pen kan jy die mooiste briewe of gedigte skryf. Gebruik jy dit egter om in jou ore te krap, kan jy dalk jou oortrom stukkend steek.

Jesus is die Here, die Redder en Verlosser. Hy is die Seun van God wat gekom het om redding en hoop te bring vir die hele wêreld. Hy het gekom sodat baie mense in en deur Hom die ware lewe ontdek. Daar is egter ook mense wat van Hom hoor en wat van Hom weet en hulle nie aan Hom steur nie. Hulle verwerp Jesus en sy verlossingswerk aan die kruis. Dit is sulke mense wat nie die ware lewe ontdek nie. Ja, dit is dieselfde Jesus: vir sommige die Een deur wie hulle die lewe ontdek en vir ander ʼn struikelblok.

Wie is Jesus vir jou? Ken jy Hom as jou Verlosser en Redder? Ken jy Hom as die Een wat vir jou die ware lewe gee? Of is Hy ʼn struikelblok in jou lewe? Moenie langer uitstel nie. Hoe kan jy toelaat dat jy die ware lewe mis? Kies om Jesus die ereplek in jou lewe te gee. Leef die ware lewe saam met Hom.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.