Gedagte vir die dag: Wees sagmoedig

lavender-stiltetyd-mirexa-pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: mirexa/Pixabay)

“Het die Here dan net deur Moses gepraat,” wou hulle ook nog weet, “en nie ook deur ons nie?” Die Here het dit gehoor. Moses was ʼn uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde. Die Here het onmiddellik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle al drie na die tent van ontmoeting toe!” En hulle drie het gegaan” (Numeri 12:2-4).

Skrifgedeelte
Numeri 12:2-4

Oordenking
Die woord “sagmoedig” word vandag tog so verkeerd verstaan. Wanneer jy die woord hoor, dink jy iemand is ʼn papbroek. Dit het egter niks daarmee te doen nie. Sagmoedigheid het alles te doen met omgee vir ander en deernis hê vir mense en hulle probleme. Dit is ʼn belangrike karaktertrek van Jesus waaraan Moses ook gekenmerk word.

Sagmoedigheid kan dalk beskryf word as ʼn sagte gees of ʼn sagte hart. Baie keer as ek hoor hoe ʼn werkgewer op ʼn werker skree of skel, is die eerste ding wat by my opkom dat so ʼn persoon nie ʼn sagte gees het nie. As ek weer iemand sien wat opreg omgee vir ander of opreg uitvra as iemand probleme het, beleef ek ʼn sagmoedige en sensitiewe hart en gees.

Die wêreld van vandag vereis hardheid. Jy moet hard wees om te kan oorleef. Jy moet ongeskik wees om jou man te kan staan. Jy moet kan vloek en skel en glo in “elkeen vir homself” om dit in vandag se tyd te kan maak. Dit is verskriklik verkeerd. Die mense wat uiteindelik die verskil maak, is mense wat omgee vir ander en met sensitiwiteit en deernis uitreik na hulle. Is jy een van hulle?

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.