Gedagte vir die dag: Genoeg genade

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. (2 Korintiërs 12:9)

Toe ons ouderling op ’n keer vertel hoe hy probeer uitvind het wat die woord “genoeg” nou eintlik beteken, kon ek my heelhartig met sy soektog vereenselwig.

Hy het uit die Bybel gelees hoe Paulus van sy swaarkry vertel, van dié soort dinge waarvan die meeste van ons nie ’n idee het nie. En toe lees hy die bekende 2 Korintiërs 12:9 waar God vir Paulus-met-die-doring-in-die-vlees antwoord: “My genade is vir jou genoeg.”

Die ouderling begin toe hardop wonder oor hierdie genoegsame genade van God en sê: “Miskien is dit daardie gevoel wanneer iemand vir jou kos inskep, en jy sê: ‘Dankie, jy het nou genoeg ingeskep.’”

Maar, het ek later gedink, dié betekenis vat dit ook nie volledig vas nie; dis nie die volle betekenis van God se genoeg-genade nie. Want as die kos ingeskep en opgeëet is, dan is dit, wel, óp. Die kos kan dus opraak, en dan is daar nie meer genoeg nie.

Nee, ons sal deur ’n ander bril moet kyk as ons wil vasstel wat God met “genoegsame genade” bedoel. Wat daarvan as ons dit deur ’n lens van dankbaarheid beskou? Dan sien ons dalk:

  • God se genade is genoeg as ons geval het en probeer opstaan. Dis ook genoeg as ons nié wíl opstaan nie. En selfs genoeg as ons wéér val …
  • God se genade is genoeg as ons dit met ons hele hart en albei ons hande aangryp. Sy genade is genoeg as ons dit ignoreer en niks daarmee te doen wil hê nie.
  • God se genade is genoeg in die vrolike tye wanneer ons nie elke dag na Hom smag nie. En dis genoeg in die swaarkry-dae wanneer ons om hulp roep.
  • God se genade is daar wanneer ons dit verdien, én wanneer daar geen enkele rede bestaan waarom ons dit mag ontvang nie.
  • God se genade is daar wanneer ons sterk is, én wanneer ons nie so sterk is nie. Trouens, dán word sy genade sommer ’n groot krag (vgl. 2 Kor 12:9b).

’n Dankbare hart weet uit ondervinding: God se genade is régtig genoeg.

Here, dankie dat u genade regtig genoeg is. Ek lewe van hierdie oorvloed.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kornel ·

Dankie Vader dat U oot ons waak, ons is klein en swak, maar U liefde red ons. Amen

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade Here. Amen!

Lena Jonk ·

God vra dikwels om geen ander dank as dat mense die hande na Hom toe uitreik nie. Dankbaarheid word dan n krag tot aktiewe deelname aan ons lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.