Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die Here. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel. (Jeremia 18:6, Bybel in Afrikaans 1933/1953)
Ons sing graag: “Doen slegs u wil, Heer, u wil met my, U, Pottebakker, met my die klei.” Om hierdie woorde met oortuiging te sing en dit werklik te bedoel, is om ’n totale oorgawe te maak tot nuutmaking.
Pottebakkery is nie ’n vinnige proses nie. Eers moet die regte tipe grond gevind word – kleigrond. Dan moet ongewenste elemente soos klippe uit die grond gesuiwer word. Ná suiwering kan met die brei van die klei begin word om dit sag en maklik werkbaar te maak, en daarna kom die vorming – ook ’n lang proses.
Elke stuk klei word met die hand gevorm, wat beteken geen twee potte lyk dieselfde nie. Moet daarom nie jou vorming en die proses daarvan vergelyk met ’n ander nie. Wie is ons om die Pottebakker se kunswerk te beoordeel of die proses te bevraagteken? Selfs gebreekte potskerwe sal Hy weer kunstig heelmaak, nuutmaak om ’n lieflike mosaïekpot te wees.
So het elke stuk klei ’n eie storie om te vertel van die tyd in die Pottebakker se hande. Gewillige klei is sag, geduldig en vormbaar onder die warm hande van die Formeerder.
Kom ons slaan ag op elke woord van die lied en bedoel elke woord wat ons sing. Kom ons gee ons oor en laat ’n meesterstuk gevorm word.
Here, ek wil sagte, gewillige klei wees in u hande, want U is my Pottebakker. Amen.
Amen!
Baie mooi woorde, so waar en eerbaar. Dis soms seer om gevorm te word, en onse God skep elkeen uniek in Sy wil.
Amen ..