Gedagte vir die dag:  Gewoontes

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 5:33-39

“En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed”. (Lukas 5:39)

Die navolging van tradisie is ’n groot seëning. Dit anker jou aan iets wat groter en ouer en sterker is as jy.

Dit is dus ’n voorreg om jou in ’n bepaalde gewoonte of gebruik te verlustig, om mettertyd daarin tuis te kom, om uiteindelik te kan sê: Dit is óns manier dié, dit is my en my mense se eiegoed. Sulke dinge het kloukrag: Jy hou daaraan vas, en dit hou jou vas.

Daarom is verandering nooit sonder meer ’n vreugde nie. Inteendeel: Daar word dikwels gefrons en gemompel en gemurmureer wanneer iemand hardop iets sê oor “vernuwing”. Of uitroep: Ons leef in ánder tye! Of skimp dat jy en jou denke outyds is.

Dis dus geen wonder dat Jesus en sy volgelinge se eet- en drink- gewoontes soveel aanstoot aan die tradisionaliste gegee het nie. Dit was vir hulle vreemd en selfs bedreigend. Hulle skroom nie om daaroor te mor nie.

Jesus se antwoord maak hulle stil, vir eers. Hy vertel hulle ’n gelykenis (nuwe wyn; ou velsakke) waarvan die eenvoudige logika geen teenspraak duld nie.

Toe gee Hy hul suur opmerkings boonop ’n doodskoot deur prontuit te sê hul ontevredenheid het nie ’n teologiese grondslag soos wat hulle wou voorgee nie. Nee, sê Hy, julle klou vas aan sinlose ou opvattings omdat julle verknog geraak het aan die voorspelbaarheid daarvan. Julle is gewoond aan die “ou wyn” en daarom weier julle om daarvan af te sien. Julle maak dus van tradisie ’n wapen om verandering te beveg.

Waarom sou mense so iets wou doen? En dit boonop kerkmense?

Here, Verlosser, bevry my en my mense van ons krampagtigheid.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Von

Here U weet hoe verknog ons is…gee vir ons nuwe denke.

Elsie Riekert

Dankie nou verstaan ek eers van ou sakke.

Johan

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!