Gedagte vir die dag: God en die groter prentjie

Namakwaland_wit-blomme_stiltetyd.jpg

Foto: Eugene Lottering

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).

Om gereeld dankie te sê en die gevoel van dankbaarheid in ons binneste te beleef, speel ’n groot rol in hoe ons die lewe ervaar. Dit het ’n regstreekse invloed op hoe ons na die lewe kyk en hoe ons oor God dink.

Ironies genoeg maak dankbaarheid ons daarvan bewus dat alles vanverbygaande aard is. Dat seisoene kom en gaan en dat vreugdes en feeste eindig, en dat verdriet en verlies ook nie vir altyd die laaste sê sal hê nie. Dankbaarheid help jou veral om in moeilike omstandighede nie so te fokus op alles wat verkeerd en sleg is nie. Dit kweek in jou ’n ingesteldheid wat gerig is op dit wat groter is as jy en jou situasie.

Kortom: Dankbaarheid maak ons meer bewus van God se hand in ons lewe.

Om in moeilike omstandighede dankie te sê, is natuurlik nie iets wat spontaan gebeur nie. Daarom is dit nodig om die Bybelse aansporings om dankbaar te wees gedurig in ons hart te dra. Dit sal ons help om in die donker tye, daardie dae wanneer ons omgekrap en onvergenoegd is, te kan onthou wat die Here van ons verwag. Ook sodat ons deur ons dankbaarheid sy heerskappy in ons lewe kan raaksien.

Hier is Bybelverse waaraan ons onsself gereeld kan herinner:

“Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar …” (Kol 4:2).

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).

“Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil …” (Heb 12:28).

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6).

Here, dankie dat U oor die hele aarde heers. Heers ook in my hart en my lewe.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Von ·

Dankie dankie genadige Here..aan U kom toe al my lof en eer en dank ….Amen

Johan Pretorius ·

Dankbaar dat ons in veilige land leef en nog steeds die Here kan dien .

Agie ·

Amen
Dankie Here.
Ek wil U loof en eer vir U genade.
Te midde van al die onmoontlike omstandighede is en bly U die EK IS.
Here help ons om dankbaarheid só te leef dat aansteeklik in ons omgewing uitwerk.
In Jesus Christus se Naam
Amen

Bridget ·

So mooi en ware woorde ek wil nie een dag in my lewe sonder U Krag en Genade en Liefde begin nie Dankie dat U altyd daar vir ons is Amen

Lena Jonk ·

As ons daaraan sou dink om God vir al die vreugde wat Hy ons skenk te dank, sal daar nie nog tyd oorbly om te kla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.