Gedagte vir die dag: Goeie vrae lei tot ’n goeie lewe

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

“Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg!” (Handelinge 9:5)

Die Nobelpryswenner en fisikus Isidor Rabi het jare gelede vertel hoe sy maats elke dag ná skool by hulle ouers een vraag gehoor het: “Wat het julle vandag geleer?” Sy ma het egter iets anders vir hom gevra: “Izzy, did you ask good questions today?” Om goeie vrae te vra, is om te groei. Om goeie vrae te vra, is om te leer.

Geloof in God sluit nie vrae en nadenke uit nie. God kan ons vrae hanteer. Trouens, geloof vat dikwels pos en groei nog dieper in die omgewing van sulke goeie vrae. Een van die beste vrae ooit word juis voor die hemel se deur neergesit deur daardie groot vervolger van die kerk. Ek praat van Paulus. Hy vra sy kanonvraag op die pad na Damaskus waar hy Christene wil gaan arresteer. “Wie is U, Here?” Dit is sy reaksie wanneer Christus se helder lig skielik op hom val. Dan hoor hy dit is Jesus wie se lig op hom skyn. Dit is Jesus self wat hy nou vervolg.

Wat ’n goeie vraag, een wat eindig in ’n splinternuwe lewe vir Paulus. So ’n goeie vraag lei tot ’n reddende hemelse respons, en dit lei weer tot ’n goeie nuwe lewe. Waag dit om jou vrae aan die Here se voete neer te sit. Klop aan sy hemelse deur. Soek God se aangesig totdat sy lig in jou lewe deurbreek. God sal Hom laat vind.

Bron: Gereed vir vandag deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here as U lig op ons val dan ibeweeg ons in U domein….U is .die Wonderwerker die Almagtige…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.