Gedagte vir die dag: Heilige deernis

 Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 19:45-48

Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag (Lukas 19:45).

Dié vier verse is ’n korter weergawe van die meer dramatiese beskrywing hiervan wat ons by die ander Evangelieskrywers kry. Maar juis vanweë die saaklikheid hiervan, is dit soos ’n hou in die wind.

Die beskuldiging is kort en kragtig: Julle het van ’n huis van gebed ’n rowersnes gemaak. Dit was klaarblyklik nie die handeldrywery as sodanig wat Jesus woedend gemaak het nie; dit was die uitbuiting van weerlose, desperate mense. Laasgenoemdes kom offer by die tempel, en dan moet hulle deur hul nek betaal vir die voorgeskrewe offerdier, al is dit net ’n duif.

Dan kan ’n latere leser hiervan ook maar net wonder oor die rol wat die priesterhoofde en skrifgeleerdes in dié “sakeondernemings” gespeel het. Want, lees ons, nou het hulle “ ’n plan gesoek om Hom dood te maak” (v. 47).

Voorlopig het Jesus die beskerming van die groot klomp mense gehad wat elke dag na Hom kom luister het. Dié rabbi uit Nasaret, so word ons vertel, het ’n totaal ander boodskap as die skrifgeleerdes gebring, en dit het die toehoorders verstom gelaat (vgl. Matt 7:28‑29). Hulle sou nie toelaat dat iemand aan Hom vat nie. Die priesterhoofde, weet ons, sou egter hul kans afwag, dit uiteindelik kry en aangryp. Jy kan nie gevestigde belange bedreig en dan reken om ongeskonde daarvan af te kom nie. Jesus het hul mag uitgedaag, dit weet ons nou. En dalk ook hul beursies, al is dít bloot ’n vermoede.

Hy sou duur hiervoor betaal. Sy volgelinge, dié wat sy omgee vir weerloses ken en navolg, kan nie verwag dat hulle anders behandel sal word nie. Dalk ook nie deur kerkmense nie.

Here, leer my u heilige deernis aan. Vir my en my kerk.

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cornelia ·

Amen. Dankie Here, vir U weë en U gedagtes. Hoe tel U nie die gebrokenes en huilendes op en koester hulle met U Heilige Liefde nie! U troos nie net nie, U vergewe volmaak: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en sondig nie meer nie.” Dankie Here dat ek nie langer die sonde se gevangene is nie.

Frik ·

Here Jesus dankie dat U God se wil volbring het en die heilige skrifte bewaarheid het. Dankie vir die Heilige Gees wat vit ons ly in die waarheid en die skrif aan ons openbaar, en voorspraak vir ons doen by God. Laat U naam geheilig word to in ewigheid Amen.

Maria ·

Wonder net maar ….ons doen seker tog selfde foute…..op Sondae is alle winkels en sentrum oop…Wat van Kerke wat winkels in gebou het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.