Gedagte vir die dag: Die heilige God      

man_eensaam_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die HERE het geroep: “Samuel!” “Ek kom!” antwoord Samuel. (1 Samuel 3:4)

Die Bybel sê die jong seun Samuel het die Here nog nie geken nie. En tog, toe God hom roep, het hy geantwoord: “Hier is ek.” Dit herinner my aan toe Jesus mense geroep het om Hom te volg. Sommige het gesê: “Ek moet eers my pa gaan begrawe.” Jesus het gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe.” Ander het gesê: “Ek moet net eers my familie gaan groet.” Jesus het geantwoord: “Nee, volg My.”

Daar is altyd ’n prys om te betaal wanneer ons kies om vir Jesus Christus te volg. Die Here verwag niks minder nie as onmiddellike gehoorsaamheid. God het nie jou vermoëns nodig nie. Hy wil net hê jy moet beskikbaar wees. Hy kies nie altyd die mense wat ons sou gekies het om die werk te doen nie. God het ’n seuntjie met die naam Samuel geroep en hom op ’n kragtige manier gebruik. Samuel is waarskynlik een van die bekendste profete in die Bybel, beslis een van die profete wat selde, indien ooit, ’n verkeerde pad gekies het. Hy was volkome aan sy Meester toegewy en hy was nie bang om God se boodskap aan mense oor te dra nie.

Eli se hart het koud geraak teenoor die dinge van die Here. Hy het toegelaat dat sy seuns die huis van God verontreinig en hy het niks daaroor gesê nie. Samuel was eers bang om vir Eli te vertel wat God vir hom gesê het, maar Eli het geweet Samuel het ’n boodskap van God ontvang en geëis dat Samuel vir hom die waarheid vertel. Dit is die waarheid wat ’n mens vrymaak.

Ons weet hoe hierdie storie geëindig het. Eli se twee seuns is doodgemaak en Eli het ook gesterf. Die jong man Samuel, wat vir die Here gesê het “Hier is ek”, is gekies om vir Saul, die eerste koning van Israel, en sy opvolger Dawid, die grootste koning wat Israel ooit voor die koms van Jesus Christus gehad het, te salf. Wat ’n voorreg! Hoekom het God vir Samuel gekies? Eenvoudig omdat hy gehoorsaam was.

Bring vandag tyd by God deur en herinner jouself daaraan dat God jou ook geroep het. Dit sal aan jou die moed gee om nie kompromieë aan te gaan of bang en onbetroubaar te word nie. Wanneer jy dan vandag uitgaan, wees net gehoorsaam aan die Woord van God. Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.