Gedagte vir die dag: Hoe is Hy?

sonsondergang_wolke_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 6:1-4

Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”. (Jesaja 6:3)

Jesaja vertel van sy roeping as profeet, en hy begin sy verhaal eenvoudig: Ek het die Here gesien, sê hy. En dan vertel hy wat hy alles gesien en gehoor het. Ontsagwekkend!

Dalk sal ons, as iemand ons uitvra, Hom anders wil beskryf. Eerder as die Kersvadertipe, die skadelose ou omie met die baard en die glimlag, die een wat kindertjies op die skoot tel en geskenke uitdeel. Wat gelukkig, as die tyd om is, uit ons gesigveld verdwyn. Wat op aanvraag darem weer sal verskyn.

Dalk is daar dié wat Hom met oortuiging sal voorstel as ’n woedende koning met ’n dreigende wysvinger. Een wat op die uitkyk bly vir misstappe deur sy onderdane sodat Hy hulle kan vasvat.

Vir vele is Hy straks ’n kombinasie van dié twee: vriendelik en geduldig – maar Hy laat nie met Hom speel nie! Jy moet jou tyd en plek ken as jy Hom nader.

Wie weet, dalk is iets of alles van bogenoemde waar. Dalk is Hy alles vir almal. Is Hy wat almal wil hê Hy moet wees. Ag, en dalk is Hy glad nie so nie, nie eens naastenby nie.

Hoe sal ons weet? Ons oë is so op onsself en ons eie behoeftes en wense en vooroordele en vrese en eiegeregtigheid en ego gerig dat ons lankal blind geword het vir sy magtige teenwoordigheid wat die hele aarde vul. Ons hoor lankal nie meer serafs nie.

Ons het gewoond geraak aan ’n bloedarmoedige bestaan op ’n dorre aarde. Aan ’n dwingelandy onder die wispelturigste heer en meester denkbaar – onsself.

Ek sukkel om U te sien, Here. Leer my om ten minste oor u heiligheid te sing.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U is soveel meer en groter as wat ek met my mensdenke kan verstaan…maak my geestes oe oop…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.