Gedagte vir die dag: Jesus, ons voorbeeld van nederigheid

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Vissersboot in Paternoster. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. (Filippense 2:5, 8)

Jesus is sonder twyfel die volmaakte voorbeeld van hoe om nederig te leef. Paulus herinner ons hieraan in Filippense 2. Hy vermaan ons om dieselfde gesindheid as Jesus te hê. Jesus was bereid om Homself te verneder deur gehoorsaam te wees tot die dood toe. Hoekom? Sodat ek en jy die ewige lewe kan hê. Jesus het sy lewe op aarde geleef as ’n voorbeeld van nederigheid en gehoorsaamheid aan God, ons Vader.

Jesus het na die aarde toe gekom om die wil van sy Vader te doen. Toe Hy mens geword het, was Hy afhanklik van sy Vader om Hom die krag te gee om die werk te doen wat God vir Hom bepaal het. “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:19, 30).

Jesus se grootste toets was in die tuin van Getsemane. Daar moes Hy Homself onderwerp aan die wil van sy Vader. Hy moes sy lot om op die kruis op Golgota te sterf, aanvaar. As jy ’n paar minute het, lees weer hierdie Skrifgedeelte in Matteus 26:36-46. Drie maal het Jesus gebid, en drie maal het Hy Homself onderwerp aan die wil van sy Vader. “My Vader as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied” (Matteus 26:42). Alles in ag genome, is nederigheid in beginsel om jou te onderwerp aan die wil van God. As jy in God se wil wandel en die dinge doen wat Hy vir jou sê om te doen, sal jy nederig wees. Jy sal sonder twyfel weet dat slegs Hy die dinge kan vermag wat Hy deur jou doen. Dit is nie jy nie, maar Hy.

My Vader-God, ek dank U vir Jesus, u Seun. Jesus, dankie dat U die volmaakte voorbeeld is van hoe om nederig te leef voor die Vader. Ek wil u voorbeeld volg. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.