Gedagte vir die dag:  Eers kniel …

bid_hande_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Spreuke 1:1-7

Kennis begin met die dien van die Here … (Spreuke 1:7)

“Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer … sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat.” Só begin hierdie interessante, veelgelese en dikwels aangehaalde boek met versamelde wyshede. En as ons dié spreukeversamelaar se uitgesproke doel ter harte neem, lees ons die ganse bundel in een sitting deur!

Want die Here weet hoe nodig ons wysheid het, veral ook om  te kan onderskei tussen die baie woorde wat hierdie jaar op ons afgevuur gaan word: die vernames se vername uitsprake en algemene praatjies-vir-die-vaak; die aartspessimiste se terneerdrukkende voorspellings en die ewige optimiste se onrealistiese vooruitskouings; die skeptiese mense se maklike wantroue en die siniese mense se ek-het-julle-mos-gesê. Om nie te praat van die slimjanne se irriterende beterweterigheid nie.

Ja-nee, as Spreuke ons sal leer wie se woorde ons ernstig moet opneem, wie ons moet glo, wie ons kan ignoreer en wie ons moet jammer kry omdat hulle mislei is en daarom ook ander mislei, dán sal ons vinnig en deeglik lees. Dan sal ons onderstreep, notas maak. Ons sal uittreksels daarvan neerskryf en in ons beursie bêre en teen die yskas plak.

Maar, blyk dit, ons moet ’n bietjie wag met die lesery. Ons moet eers ’n bril opsit, die regte bril. Want, sê hierdie spreukeversamelaar, kennis begin met die dien van die Here. Voordat ons dus begin lees, moet ons eers kniel. Voordat ons ons laat leer, moet ons eers vra: Wat wil U my wysmaak?

Want sien, ons leer mos alte graag wat ons wíl leer. Ons laat ons oortuig as ons oortuig wil word. Ons glo tog so vas in ons eie slimmigheid.

Verlos my, Here, van my onwankelbare geloof in myself. Maak my vry om U te dien.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.