Gedagte vir die dag: Lidia: die evangelie in die kombuis

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpg

Foto: Annelize Brits

Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin (Handelinge 16:31). 

Lidia, ’n besigheidsvrou in Filippi, het die Joodse geloof aanvaar. Een oggend is sy saam met haar vriendinne na die rivier om te bid. Sy vertel: “Die oggend het ’n paar mans na ons toe gestap. Een van hulle, Paulus, het met ons begin gesels. Dit was asof God self daar was. ‘Dis hoekom ons gekom het,’ het die manne gesê. ‘God het ons gestuur om vir die mense van Filippi te vertel dat God sy Seun as Verlosser na die wêreld gestuur het.’ Die minute het ure geword terwyl ons geluister het.

“Ek het ’n blydskap gevoel wat ek nie in woorde kan uitdruk nie. Ek het Paulus na ons huis genooi. En daar het hy almal gedoop wat geglo het. Ek het Paulus-hulle uitgenooi om by ons tuis te gaan. In Filippi het baie Paulus se boodskap aanvaar en gelowig geword. Maar ander het hom teengestaan. Hy en Silas, sy medewerker, is gevang en sonder ’n verhoor gegésel en toe in die tronk opgesluit. Om middernag het die Here die tronkdeure laat oopgaan en is Paulus en Silas gered. Op die koop toe het hulle die tronkbewaarder en sy gesin dié nag na die Here gelei.

“Die volgende oggend was Paulus weer my gas. In die kombuis het ons almal bymekaargekom. Daar kon ek al my nuwe broers en susters ontvang terwyl ons oor Jesus praat. Baie keer, na ete, het Paulus van die brood en wyn geneem om die dood van ons Here te gedenk. Kan jy jou voorstel: die kerk van Christus, in my kombuis!”

Lidia was nie die laaste suksesvolle vrou wat haar hart en haar huis, haar kombuis, vir die Here oopgestel het nie. Wat van joune, vandag?

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U het n plekkie in U huis en in U hart vir elke mens wat in geloof na U toe kom, by U my God is ek altyd welkom…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.