Lees: Psalm 131
My hart is nie hoogmoedig nie, HERE; en my oë is nie trots nie. Ek bemoei my nie met wat vir my te groot of te moeilik is nie. Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. (Psalm 131:1-2, NLV)
Deesdae leef mense al hoe meer gejaagd, daar word al hoe hoër eise aan ons gestel. Soos ’n mens ouer word, neem jou selfvertroue af en jou angstigheid toe wanneer jy ontdek dat jy nie meer kan byhou nie omdat jy nie meer al die dinge kan doen wat jy vroeër kon nie. Boonop laat jou geheue jou dikwels in die steek en jy begin wonder of jy nie dalk in die beginstadium van demensie is nie. Soos Job wil jy vir God sê: “Ek lewe in angs en het geen selfrespek oor nie.” (Job 30:15, NLV).
Daarom is vandag se kernverse my persoonlike versekering teen my angstige dae. Al maak sommige dinge my steeds benoud, al stres ek nog omdat ek so baie vergeet, is dit vir my ’n riem onder die hart dat ek maar rustig kan wees omdat God self vir my kalmte belowe. Dieselfde kalmte wat ’n baba rustig in sy ma se arms aan die slaap laat raak, omdat hy intuïtief weet hy is daar veilig.
Jy hoef jou ook nie langer te bekommer oor die baie dinge wat vir jou té groot of té moeilik geword het nie. In God se teenwoordigheid kan jy so rustig soos ’n baba in sy ma se arms wees. Laat Hom toe om jou eie onrus weg te neem en dit met sy vrede en kalmte te vervang.
Hemelse Vader, ek loof U dat ek nie langer my kop hoef te breek oor my probleme nie. Ek wil nou u rus en kalmte vir my toe-eien Amen.