Gedagte vir die dag: ’n Gebed om liefde

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Mag God ons Vader en Jesus ons Here self ons pad na julle toe oopmaak. En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense so groot en oorvloedig maak dat dit net soos ons liefde vir julle sal wees. (1 Tessalonisense 3:11-12)

In sy brief aan die Tessalonisense straal Paulus se liefde en besorgdheid vir hulle uit elke woord. Wanneer hy vir hulle bid, vra hy die Here om hulle liefde vir mekaar oorvloedig te maak. Hy bid dus dat die gemeente in Tessalonika ’n sterk en ondersteunende geloofsgemeenskap moet word.

Christene het mekaar nodig. God gebruik ander gelowiges om ons sterk te maak. Jesus het gesê: “Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is” (Joh. 13:34-35). Die skrywer van die Hebreërsbrief sê ook: “Laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan” (Heb. 10:25).

Wanneer ’n mens om krag bid om getrou te bly aan God, kan jy verwag dat Hy jou sal antwoord deur die gelowiges wat elke Sondag saam met jou aanbid. Dalk praat God met jou deur julle predikant of ander kerkleier, of deur ’n Christenvriend in jou sel- of Bybelstudiegroep; of miskien maak ’n kennis sommer uit die bloute ’n opmerking wat jou diep tref. Aan die ander kant kan jy ook deur God gebruik word om ander gelowiges te versterk en te bemoedig. Daarvoor moet jy ernstig bid. Per slot van rekening is ons almal een groot familie, en sal ons dit tot in ewigheid bly.

Wat is jou gesindheid teenoor ander gelowiges? Het jy ’n kerngroepie mede-Christene wat jou ondersteun en vir jou bid – en vir wie jy dieselfde doen?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.