Gedagte vir die dag: ’n Lewe van nederige gehoorsaamheid

reenboog-dor-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom. (Daniël 10:12)

Daniël se geloofspad het nie in die leeukuil begin nie. Nee, dit was ’n uitvloeisel van ’n lewe van nederige gehoorsaamheid en getrouheid aan God. As ’n jong man is Daniël gevange geneem saam met sy vriende Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle is uit hul huise in Jerusalem geneem na Babilon. Daniël en sy vriende is aanvanklik gekies om in die paleis van die koning te dien. Hulle het die beste kos en opvoeding gekry.

Ons lees in Daniël 1:8: “Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie.” God het vir hom guns bewerkstellig by die hoof van die eunugs. God het sy gehoorsaamheid vereer en soos ons weet, was hy blakend gesond met die eenvoudige dieet wat hy gekies het. Selfs in die aangesig van persoonlike gevaar, was dit nie vir Daniël ’n opsie om op te hou om God daagliks te aanbid en te prys nie. Die koning was baie ontsteld omdat Daniël in die leeukuil gegooi sou word. Die volgende oggend het Daniël vir die koning gesê: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is” (Daniël 6:23).

God het vir Daniël sy hele lewe lank gebruik om sy boodskappe aan sy mense te bring. In hoofstuk 10 word die volgende vir Daniël gesê: “ … want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor … ” (vers 12). Daniël se lewe was stewig gegrond in sy verhouding met God. Hy was sy lewe lank standvastig. Daniël kon met reg sê: “Die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree” (Daniël 11:32).

My Vader, ek buig in u teenwoordigheid. Ek vra U om my te help om standvastig te wees in gehoorsaamheid en getrouheid aan U. Here, help my in Jesus se Naam om nederig voor U te wandel. Here, ek wil U ken soos Daniël U geken het. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.